menu
Biografie
Benescke Janse van Rensburg het op ‘n plaas in die Vrystaat grootgeword. Ná haar hoërskoolloopbaan aan die C&N Meisieskool Oranje in Bloemfontein, het sy haar universiteitsjare aan die Stellenbosch Universiteit begin.

Dáár het sy ‘n B.A.-graad, ‘n onderwyssertifikaat en ‘n honneurs- en meestersgraad in Joernalistiek verwerf. As deel van haar meestersgraad het Benescke aan ‘n universiteit in Tilburg, Nederland gaan studeer.

 

 

Radio: By haar terugkeer het sy by Radiokansel in Kaapstad as programkoördineerder en omroeper begin werk. Haar radiodramas was geweldig gewild onder luisteraars. Vandag is sy ‘n omroeper by Tygerberg 104FM in die Kaapse Skiereiland en saam met Anton Brink. Saam is hulle verantwoordelik vir die 06:00-09:00 ontbytskof, Oggendrooi elke weeksoggend. Vanaf 2013 tot 2015 was Benescke jaarliks een van die ATKV Mediaveertjie finaliste vir die kategorie Beste omroeper by ‘n Gemeenskapsradiostasie.

 

 

Skryf: Benescke is een van die skrywers vir die Vers-‘n-Dag elektroniese dagstukkies wat daagliks na meer as 80,000 intekenare wêreldwyd uitgestuur word. Sy skryf ook vir verskeie geestelike- en inspirasietydskrifte en tree gereeld as motiveringspreker op.

Familie: Benescke is getroud met Johannes Janse van Rensburg, ‘n biokinetikus wat sy eie praktyk in Bellville besit en hulle het twee dogtertjies, Joalé en Ziva-Mari.

 

 

In ‘n neutedop: Benescke se passie in die lewe is om God se Woord en beloftes op ‘n kreatiewe, relevante manier te deel waarmee die man op straat kan identifiseer.

En haar lewensdoelwit? As God afkyk aarde toe en iemand benodig om vreemde dinge vir Hom te doen, dat Hy haar sal kies omdat sy bereid is.

 

’n Paar vrae vir Benescke:

Die persone wat my die meeste deur my lewe inspireer het, is … my man, Johannes en my ouers. My man verryk my lewe en bring hoop aan my en ook die mense om hom. My pa is ’n sterk leier en het altyd ’n plan maak nie saak hoe groot die uitdaging nie. My ma is ’n bondel liefde, omgee en my grootste ondersteuner. Ek het ook ’n groot waardering vir gewone mense wat buitengewone dinge doen om ’n positiewe verskil in ander mense se lewens te maak.

Naas skryf, radiowerk en optredes hou ek myself besig met… my twee pragtige kinders en my man, Johannes. Ek het onlangs ’n gesegde van Moeder Teresa gelees wat lei: “If you want to change the world, go home and love your family.” Ek is passievol oor ’n gesonde, gelukkige huwelik en om kinders met selfvertroue groot te maak is vir my baie belangrik. ’n Nalatenskap lê nie noodwendig in wat jy in jou loopbaan bereik het nie, maar juis in die herinneringe wat jy saam met jou naaste gebou het. Ek en my man glo daarin om eers in mekaar en dan in ons werk tyd te spandeer.

Wat vandag se ma’s moet weet, is dat… min mense op ons begrafnisse gaan praat oor hoeveel geld ons gemaak het of hoe goed ons in ons werksplek was, maar ons kinders gaan vir die res van hul lewens onthou of ons langs die sportveld of by die prysuitdeling was. Alhoewel min ma’s die luukse het om jou kinders self groot te maak, het ons almal die keuse hoe ons die tyd wat ons wel by ons kinders het gaan gebruik. Make memories.

As ek oor my lewe terugkyk, sien ek God in… elke besluit wat ek geneem het. Ten spyte daarvan dat sekere loopbaan- en lewenskeuses in die oomblik nie noodwendig sin gemaak nie, kyk ek vandag dankbaar terug met die wete dat God my deur sy Heilige Gees gevorm en gelei het. Hy ken die einde van die begin en dit bly ’n voorreg om saam met Hom die pad te stap.

God gebruik my kreaitiwiteit om… die Woord op ’n kreatiewe, maklike, relevante manier aan die gewone man op straat oor te dra. God het my met ’n vermoë geseën om maklik geestelike boodskappe van hoop rondom aktuele nuusgebeure te bou wat dit sodoende blywend by die leser of hoorder vestig. God is die bron van ons kreatiwiteit en ek staan soms verstom oor die Heilige Gees se idees wat Hy aan ons “leen”.