menu
June 22, 2018
Dag 16: Geloof is om nie vir slegte tye te vrees nie

Deur Benescke Janse van Rensburg

 

Agtergrond: Saaiboere weet dat gewasse voor 15 Desember jaarliks in die grond moet wees om te verhoed dat die winterkoue dit vernietig. In 2016 moes Pieter Keyter, ’n Vrystaatse boer, egter ’n stap van geloof neem – wat sy hele plaas kon kos. Hier is sy getuienis:

 

Pieter: “Aan die einde van April 2016 het ek vroegoggend (03:30) in my bakkie tussen my landerye gesit. My hart het vinnig geklop terwyl dit gevoel het of my keel wil toetrek. Op die bakkie se termometer was dit reeds 0°C en ek kon sien hoe yskristalle tussen die mielies vorm. Díe ryp kon my hele mielie-oes vernietig – wat ek in geloof geplant het.

 

In November daardie vorige jaar het ek ’n kontrak vir die lewering van mielies geteken. Die prys was goed. Dit het egter nie weer onmiddellik daarna gereën nie. Twintig dae later, op 10 Desember, het ek probeer om uit die kontrak te kom omdat ons nie mielies sou kon plant sonder reën nie. Geskok moes ek verneem dat dit my ’n astronomiese bedrag sou kos om uit die kontrak te kom. Voeg hierby dat ek vir ’n jaar geen inkomste sou hê nie en steeds my mense moes betaal. In my binnekamer, op my knieë voor God, het ek vir ’n uitkoms gesmeek. Ek het regtig nie geweet wat om te doen nie.

 

Die enigste teksvers wat na vore gekom het, is Hebreërs 6:7 – spesifiek uit die Engelse Message-vertaling: “Parched ground soaks up the rain and then produces an abundance of carrots and corn for its gardener gets God’s ‘Well Done’!” Enigiemand wat boerdery verstaan, sal weet dat dit ’n stap van geloof sou kos om te plant buite plantseisoen.

 

Ten spyte van my vriende se waarskuwings dat ek dwaas is, het ek nadat dit op 12 Januarie begin reën het dadelik begin plant. Teen 5 Februarie was die mielies en sonneblomme als in die grond.

 

Waar ek op 29 April 2016 in die landerye gesit het, het die trane oor my wange gestroom. Al wat ek kon vra is: ‘Vader, het ek verkeerd gehoor? Ek was dan oortuig dat U my lei om mielies te plant. Wat gaan ek doen as ek alles verloor?’ Teen 05:00 daardie oggend is ek mismoedig terug huis toe. ’n Uur of wat later het iemand (wat niks geweet het van my gesprek met God in die landerye nie), vir my ’n WhatsApp-boodskap gestuur met die woorde in Psalm 112:7: Hy vrees nie vir slegte tyding nie; sy hart is gerus, vol vertroue op die HERE.” Daardie oggend het ek besluit om my geloof in God te plaas en nie verder slegte tyding te vrees nie.

 

God het ingegryp en ’n wonderwerk gedoen. Nie net het die ryp van daardie nag slegs die boonste blare geskroei nie en geen impak op die oes gehad nie; dit was ook in 50 jaar op die plaas die grootste mielie-oes. Die aanvraag was hoog en ons was die enigste boere met mielies in die omgewing wat ons inkomste bykans vier keer meer as gewoonlik gemaak het. Alle eer aan God!”

 

Pieter is reg. ’n Stap van geloof is gewoonlik uitdagend, maar juis in die tye van vrees en bekommernis, kan ons onsself herinner aan die woorde in Psalm 112:7. Kom ons kies vandag om nie langer slegte tyding te vrees nie, maar doelbewus te ons hart vol vertroue op God te plaas. Sterkte.

 

Vader God, baie dankie dat U ons in moeilike situasies wil lei – en dat U ook ons geloof eer. Help my asseblief om in gehoorsaamheid te doen wat U in my hart plaas. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

 


Los jou kommentaar en laat weet my wat jy dink

11 persone het gereageer.

  1. Evert Potgieter says:

    Pieter,Jou storie/getuienis is sooo inspirerend!Baie dankie dat jy dit nie vir jouself hou nie,maar dit met ander deel om hulle,soos vir my,te bemoedig.Baie seen en voorspoed vir jou en jou pragtige gesin.

    1. Engeltjie van Heerden says:

      Pieter, baie baie dankie dat jy hierdie kosbare getuienis met ons deel. Dis GROOT!!!!!!!!!!!!!!!!!! Ons bid jou die HERE se goedheid en guns toe vir jou gesin en jou boerdery en mag HY julle bewaar en vir julle gee veel meer as waarvoor julle kan droom of dink of bid.

  2. JC Scheepers Stoffel says:

    Ek is die Here die GOD van al die mense Is iets vir My onmoontlik -Jeremia. 32:27

  3. JC Scheepers Stoffel says:

    Prys die HERE

  4. Michelle Nel says:

    Hallo Beneske, hierdie stukkie vanoggend was so gepas en so op ons lewe van toepassing op hierdie stadium. Ek het die heeltyd wat ek dit gelees het trane in my oë gehad en hoendervleis gekry want God is so groot en goed. Dit is in swaar tye So moeilik om nie negatief en mismoedig te raak nie en hierdie getuienis het my net moed en krag gegee om aan te hou bid en glo en om nie moed te verloor nie! Absoluut pitkos vir jou siel en ‘n inspirasie vir elke dag en elke situasie waardeur jy gaan! Jou daaglikse boodskappies gee mens soeveel moed en krag en leiding. Dit is so inspirerend en deur en deur sielskos vir elke dag! Baie dankie. Ek waardeer jou boodskappies ongelooflik baie en dit beteken so baie vir ons.

  5. Geta Wrona says:

    Praise God, God is like Oxygen, you can’t see Him, but you can’t live without Him!

    He is Forever our God and King!

  6. GERRIE says:

    GOD IS GOED

    1. Corlia Kleinhans says:

      Dit is ‘n wonderlike les wat ek by jou vandag geleer het, Pieter…….. Mens kyk vas in die slegte en twyfel of ek die Here se stem reg gehoor het. Glo God. Ja, nie glo in God nie, maar glo God….
      Ongelooflik, Dankie vir hierdie getuienis vandag…

  7. Sandra says:

    To God be the glory……. Great things He has done. Dit is al wat ek vandag vir jou kan sê en sommer vir enigeiemand wat dit lees. AS EK NIE BY DIE HERE WAS NIE, AS EK NIE DAAI STAP IN GELOOF GENEEM HET NIE, AS EK NIE AL DAAI TRANE GESTORT HET NIE, AS EK NIE MY KNIEë GEBUIG HET NIE, WAAR SOU EK VANDAG GEWEES HET. En so kan ek aangaan en aangaan. Pieter, my broer in die geloof, hou vas aan ons hemelse Vader. Jy sal nooit spyt wees nie. Hy sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. To God be the glory……♪ ♪ ♪Great things He has done.

  8. Leonie says:

    Dankie Here vir hierdie getuienis dit gee my opnuut die moeite werd om aan te gaan dankie ek se net Dankie dankie Here!

    Leonie

  9. Engeltjie van Heerden says:

    Benescke, jou daaglikse pitkos dra my absoluut. Ek het ook jou boek by die Lig gekry “5 Min met GOD” Dis KOSBAAR. Ek kan baie daarvan elke dag uitgee vir ander wat dit so waardeer. Jy is KOSBAAR en weet GOD glimlag oor jou. Baie seën

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *