menu
June 25, 2018
Dag 18: Geloof is om sonder bekommernis te leef

Deur Benescke Janse van Rensburg

 

Gisteroggend was die nuusopskrif op een van die nuuswebwerwe: “Drie pa’s oor die afgelope naweek in aanvalle vermoor.” Hierdie opskrif ontlok onmiddellik een van twee emosies: Een, vrees. Ons vrees vir ons eie en ook ons geliefdes se veiligheid. Of twee, geloof. Alhoewel ons die realiteit van die gebeure besef, kies ons om te onthou dat ons in ’n gebroke wêreld leef, maar dat God in beheer bly. Hier is ’n getuienis van hoe ’n egpaar vrede te midde van ’n storm beleef het: 

 

In Februarie verlede jaar is die 60-jarige Lourie van der Merwe, ’n landbou-adviseur en voormalige pastoor en sy vrou Celia (ook 60 jaar oud) in die vroeë oggendure in hul huis op Marquard in die Vrystaat oorval. Lourie is met ’n jagmes in die bors gesteek en Celia in die gesig. Hierna is hul vir bykans ’n uur in die huis aangehou met dreigemente dat hul vermoor gaan word. Chemikalieë en brandstof is oor Lourie uitgegooi en die aanvaller het probeer om hom aan die brand te steek. Die vuurhoutjies was egter te nat na die reën. In ’n stadium kon Celia ontsnap en hulp ontbied, wat hul lewens gespaar het.

 

Hierdie storie het my geruk. Twee onskuldige bejaardes in die veiligheid van hul huis oorval. Wat my egter geïnspireer het, is Lourie se woorde in ’n kort video wat enkele dae ná die aanval in die hospitaal opgeneem is. Hy sê: “Ek het gevra, ‘Hoekom Here? Hoekom het dit gebeur?’ Die Here het vir my gewys dat die aanvaller op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was, maar dat God ook dáár was. . . Kom ons kies om vir God dankie te sê en nie toe te laat dat die vyand haat en bitterheid in ons harte plaas nie. . .” Reeds in die hospitaal, het hierdie egpaar gekies om te vergewe en vry te spreek. (sien onderaan)

 

Die storie het my laat dink aan geloof. Geloof is om te vergewe en vry te spreek omdat ons glo dat God die finale oordeel fel. Geloof is om te midde van vreesagtige situasies ons oë op God te hou, omdat ons glo dat niks Hom ooit onkant betrap nie. En geloof is om God se vrede te ervaar – te midde van situasies waar vrees en vrae dreig om ons te oorweldig omdat ons glo dat Jesus die vyand reeds oorwin het en dat Hy ons in staat stel om dieselfde te doen.

 

In 1 Petrus 5:7 lees ons: Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.” In Filippense 4:6-7 word ons herinner dat die vrede wat alle verstand te bowe gaan oor ons harte en gedagtes die wag hou wanneer ons, ons harte voor God uitstort. En in Eksodus 14 lees ons dat die Israeliete vreesbevange na God uitroep met die see voor hulle en die Egiptenare wat van agter af dreig om hulle te verswelg. Luister na Moses se reaksie op hierdie vrees: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red . . .  Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg” (Eksodus 14:13-14).

 

Gisteroggend het ek met Celia gesels. Dis nou 1 jaar en 4 maande later. Wat my diep geraak het, is hoe sy getuig dat God hul deur die verwerking van hierdie trauma gedra het. Ook dat daar talle goeie dinge na vore gekom het. As sy terugdink aan die skriknag in Februarie 2017, getuig sy dat God dáár was – dat Sy vrede haar hart onverklaarbaar gevul het.

 

Kom ons kies vandag geloof bó vrees. Kom ons kies om ons oë op God te hou en kalm te onthou dat Hy namens ons veg. Sterkte.

 

Vader God, baie dankie dat ek my hart voor U mag uitstort en al my bekommernisse op U mag werp. Help my asseblief om U vrede in my storm te ervaar. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

Hier is Celia van der Merwe se getuienis (1 jaar en 4 maande na die aanval):

 

Hier is Lourie van der Merwe se getuienis (1 jaar en 4 maande na die aanval)

 


Los jou kommentaar en laat weet my wat jy dink

6 persone het gereageer.

  1. Charlien says:

    Dankie vir die amazing getuie. Dit help baie. God is altyd by ons. Bewaar ons harte en gedagtes.

  2. Michelle van der Vyver says:

    Baie dankie vir elke dag se inspirerende boodskappies, ek kan net sê dankie Jesus dat U my ( ons) deur elke dag dra en beskerm, ons dien n wonderlike Vader. Laat U wil geskied Here gaan met ons land en mense in Suid Afrika ons het U so nogdig.

  3. Ryk Taljaard says:

    Hi B,

    Amen op alles wat jy hier skryf, baie dankie! Geruime tyd al ervaar ek die Here se vrede en kalmte op alle aspekte van my lewe, klein en groot. Dit help my om negatiwiteit tov ons land en ons toekoms, oor alles wat verkeerd in ons land gebeur, eenvoudig nie toe te laat om my negatief te maak nie – God bly in beheer, altyd, al voel dit nie so nie.

    Iets wat vir my soms ‘n issue is is om nie so selfversekerd te raak, onbewustelik so geestelik verwaand te raak, dat God iets met my sal laat gebeur wat my voete terug aarde toe bring nie. Dis sommer net ‘n gedagte wat soms by my opkom en wat ek dan pertinent voor God neerlê, dat Hy my sal help om geestelik nederig te bly, al ervaar ek Sy vrede en kalmte so oorweldigend in my persoonlike (en besigheids-) lewe.

    Baie dankie vir al die wonderlike inspirasie uit jou “pen”.

    Mooi dag vir jou!

    Groete

    Ryk

  4. Emelda says:

    Baie dankie vir elke dag se kosbare boodskap. Ook vir hierdie van Lourie en Celia. Dit is so waar dat ons moet vergewe sodat God ons ook kan vergewe. Ek is so dankbaar vir God se beskerming elke dag en so dankbaar dat Hy by Lourie en Celia was. Amen.🙋

  5. Baie dankie vir die inspirerende boodskappe elke dag ook vir die deel van Lourie en Celia se ervaring.Ja ek is ook al deur hierdie slegte ondervinding was al 3 keer deur booswigte oorval die laaste keer was baie erg 5 manne met musse oor hul koppe het swaar gewapen ons in ons besigheids perseel aan geval en baie geld geneem.Al my personeel (26) was gevra om met hul hande agter die rug op die grond te le.Ek wou nie gaan le nie en hulle het my probeer skiet.Ek het ‘n baie sterk geloof het vir hulle gese hulle kan probeer maar die wapen sal nie werk nie want Jesus is my beskerm heer.Hy het drie keer die sneller getrek die petroon het elke keer uitgeskiet en voor my voete geval sonder dat ek getref is.Toe hulle sien die wapens werk nie het hulle my begin slaan met die vuurwapen se kolf terwyl sy makkers geld geneem het.Ek het baie bloed verloor.Nadat hulle alles geneem het,het hulle gevlug omdat een van my personeel die alarm geaktiveer het. Ek moes 17 steke aan my kopvel kry het skedelbreuk opgedoen maar my lewe is gespaar.Ek kan ook net getuig God is groot ek was heeltyd kalm en rustig want ek het geweet Jesus was by my en hy sal my beskerm soos ‘n Daniel en sy vriende in die leeukuil en vuuroond gegooi was hy my ook sal bewaar.

    As ons nie ‘n lewende verhouding met hom het nie sal ons baie slegter van sulke terug slae herstel.Loof die Heer hy is goed prys sy heilige naam.Amen

  6. God is in beheer hou net vas aan sy beloftes bid glo en vertrou

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *