menu
September 29, 2019
DAG 19: DIE GESKENK VAN AFHANKLIKHEID

Deur Benescke Janse van Rensburg

Twee weke gelede het ek van die trappe afgeval en my been gebreek. ’n Operasie was nodig om die skade aan my enkel te herstel. Oornag het ek beweeg van totaal onafhanklik wees en op spoed die lewe aandurf, tot doodstil sit en volkome afhanklik wees van hulp van ander om alles gedoen te kry. Vir my geaardheid is dit met tye erg frustrerend. Elke beweging gaan gepaard met pyn, so ’n mens moet mooi dink of jy regtig êrens heen wil stap met die krukke.

My een vraag deurentyd was: “Vader wys my wat moet ek hieruit leer?” In my lewe glo ek dat daar altyd ’n rede is vir alles wat gebeur – goed of sleg. Gisteraand het die lig skielik vir my aangegaan.

Is dít nie dalk wat dit beteken om totaal afhanklik van God te wees nie? Dis maklik om te sê dat ons God eerste stel en dat ons Hom ken in ’n saak, maar wat beteken dit prakties? Is ons bereid om “nee” te sê vir ’n aanloklike projek met baie geld omdat ons nie vrede in ons harte het nie? Is ons bereid om kontak met iemand te verbreek buite ons huwelik omdat dit ons huwelik negatief raak? Het ons soveel ontsag vir Hom dat ons bereid is om stil in Sy teenwoordigheid te wag vir ’n antwoord of neem ons besluite waarna ons Hom bloot inlig?

In 2 Kronieke 16:9 lees ons: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” In Psalm 27:14 lees ons: “Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!” En dan in Psalm 53:3 word ons herinner dat God ons sien wanneer ons in sy teenwoordigheid vir ’n antwoord wag: “Van die hemel af kyk God die mense deur om te sien of daar één verstandige is, één wat na die wil van God vra.”

Afhanklikheid voel aanvanklik frustrerend omdat ’n mens beheer oorgee. Tog, daar is ’n geskenk opgesluit in die oorgee: Beskerming. Mag ek jou aanmoedig om oor te gee, stil te word en te luister. God eer afhanklikheid. Sterkte.

Vader God baie dankie dat ek my knieë voor U kan buig in afhanklikheid, wetende dat U my daarin beskerm. Lei my asseblief met wysheid (noem die area). Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 


Los jou kommentaar en laat weet my wat jy dink

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *