menu
November 3, 2019
DAG 2: KOM ONS GEE HOM DIE EER

Deur Benescke Janse van Rensburg

 

12-32. Dié finale telling op die telbord in Saterdag se Rugby Wêreldbekereindstryd gaan verseker nog vir jare glimlagte op ons gesigte plaas. Die Springbokke, wat nie ’n kans gegun was nie, het koning gekraai en bring binnekort die William Webb Ellis trofee saam terug huis toe.

 

In ’n onderhoud vóór die toernooi het afrigter Rassie Erasmus gesê sy uitkyk op die rol van sport het deur die loop van jare verander. Vir hom gaan dit nie meer net oor wen nie, maar om ondersteuners en ons land te inspireer en met hoop te vul. Dít het hulle verseker reggekry.

 

In sy onderhoud ná die wedstryd het kaptein Sia Kolisi gesê dat hy die land nog nooit soos nou gesien het nie. In eenheid en agter die span. Selfs Prins Harry, wat ’n draai in die kleedkamers gemaak het, om die Springbokke geluk te wens met hul oorwinning, het gesê dat hy dink ons as land het hierdie wen die meeste nodig gehad.

 

Dit is maklik om die wen aan harde werk en ’n bietjie geluk toe te skryf. Tog kan ek nie help om God se strategiese Hand in alles te sien nie – die verloor in die groepwedstryde sodat ons die pad kon volg wat ons gevolg het tot by die finaal; die drie drukkers in die finaal, Makazole Mapimpi en Cheslin Kolbe; en dan die man van die wedstryd, Duane Vermeulen. Almal in ons land is verteenwoordig en ons kon as ’n eenheid saam feesvier.

 

Waar daar eenheid is, is daar seëning. Dít is wat die vyand in ons land wil steel. In Psalm 133:1,3 lees ons: “Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon! . . . Waar broers so saam woon, skenk die Here sy seën.” Ook in Romeine 12:18 lees ons: “As dit moontlik is, sovêr dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” En in Matteus 6:10 leer Jesus die mense bid met hierdie woorde: “. . . laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.”

 

Kom ons sê dankie vir God vir die geskenk van hierdie eenheidsgevoel en trots wat ons as ’n nasie ervaar. Kom ons hou aan bid dat God sy koninkryk sal laat neerdaal in ons gesinne, ons gemeenskappe en ons land. Só ervaar ons God se seën! Sterkte.

 

Vader God, baie dankie vir die eenheidsgevoel wat ons tans beleef. Help ons om nie bekommerd te wees oor ons toekoms omdat ons weet dat U reeds daar is. Mag ons vra dat U koninkryk en teenwoordigheid sal neerdaal in ons gesinne, gemeenskappe en ons land. Ons bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

 

 


Los jou kommentaar en laat weet my wat jy dink

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *