menu
February 25, 2013
DAG 31: NUWE HOOP… WANNEER ONS TERUGKEER NA WAT WERKLIK BELANGRIK IS

Die gelykenis van Theodore Wedel het my diep geraak. Ek deel dit graag vandag met jou:

In ’n spesifieke land is daar ’n gevaarlike kuslyn waar swemmers gereeld in die moeilikheid beland het of skepe op die rotse geloop het. Vanuit hulle eenvoudige hut met net een reddingsbootjie om uit te gaan in die storms, het ’n groep reddingswerkers begin om die see dag en nag dop te hou om te verseker dat niemand verdrink nie. Só is baie mense se lewens gespaar.

Die mense wat gered is by die stasie het teruggekeer huis toe en van die goeie werk van die reddingstasie vertel. Dít het nuuskieriges uit alle oorde na die stasie gelok. Gou het die plaaslike inwoners en ook die besoekers gevoel dat die eenvoudige hut nie meer goed genoeg was vir die werk wat daar verrig word nie. Hulle het geld ingesamel en ’n groter gebou is opgerig. Die stasie is met moderne meubels versier om dit ’n tipe klub te maak. Nuwe reddingspanne is opgelei omdat daar gereken is dat hulle só meer mense sou kon help.

Al meer en meer werkers het by die stasie aangesluit. Dié keer vir die goeie salaris en nie omdat dit hulle passie was om mense in nood te help nie. As skepe gestrand geraak het en mense vuil en stink uit die water gered is, moes hulle eers buite die klub skoongemaak word voordat hulle in die gebou toegelaat is.

Tydens een van die klubvergaderings was daar ’n skeuring tussen die groepslede. Een groep wou alle reddingsaktiwiteite by die klub staak omdat dit vreemde mense na die klub gelok het wat die normale sosiale lewe van die klub bedreig het. Die ander groep het die vergadering herinner aan die primêre doel van die reddingstasie: om mense uit die storms te red. Die bestuur het tot ’n slotsom gekom dat die klub goed gefunksioneer het en dat ’n nuwe reddingstasie eerder ’n entjie verder langs die kus opgerig moes word. Dit het so gebeur.

Die geskiedenis het homself egter herhaal. Die nuwe stasie het mettertyd in ’n klub verander, nog ’n skeuring het plaasgevind en weer is besluit om ’n nuwe reddingstasie op te rig. As mens vandag daardie kuslyn besoek staan daar verskeie aangename, eksklusiewe klubs. Skeepsrampe vind steeds plaas, maar die keer sterf die meeste van die slagoffers. . .

Is dit wat in ons kerke begin gebeur het? Het ons so gemaklik begin raak aan die binnekant van die gebou dat ons van die stukkende, vuil, honger, werklose en daklose mense daarbuite vergeet het? In Amos 5 lees ons dat God rituele en feeste haat wanneer ons van die gebrokenes buite die kerk vergeet. Luister weer na sy woorde in Amos 5:21-24 waar God sê:“Ek haat julle feeste, Ek wil nie die feeste hê nie. Ek hou nie van julle gewyde feesdae nie. Julle bring vir My brand-offers en koring-offers, maar Ek wil dit nie hê nie en Ek wil glad nie kyk na die vet diere wat julle bring vir ete-offers nie. Wanneer julle sing, dan is dit nie vir My mooi nie, julle raas net. Hou op sing! Ek wil nie luister wanneer julle musiek maak met ’n harp nie. Ek wil hê julle moet reg doen aan mense. . .” Ook in Mattheus 25:40 herinner Jesus ons dat wanneer ons uitreik na diegene in nood ons in werklikheid ook uitreik na Hom: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”

God is liefde en wanneer ons na die gebrokenes en diegene in seer rondom ons uitreik, demonstreer ons sy liefde aan die wêreld. Ons word sy hande en voete. God het sy Seun gestuur sodat niemand verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Is dit steeds ons fokus om die wêreld hiervan te vertel of het ons so vasgevang geraak in ons gemaklike kerkgeboue en ons projekte daarbinne dat ons die slagoffers in die storms daarbuite miskyk terwyl hulle een na die ander van hulle omkom?

Vader God, baie dankie vir u liefde en genade. Help ons om nie so vasgevang te raak in rituele en gemak dat ons vergeet om hierdie eienskappe aan die wêreld uit te leef nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.


Los jou kommentaar en laat weet my wat jy dink

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *