menu
April 17, 2019
Paasfees 2019

Deur Benescke Janse van Rensburg

 

“Mayday, mayday…” Dít was die noodroep van die beangste Britse vlieënier tydens die Tweede Wêreldoorlog. Hy en sy span was op ’n missie uitgestuur om bomme oor Duitsland af te gooi. Die weermag op die grond het egter die vliegtuig en bemanning getref en hulle was vinnig besig om hoogte te verloor. Die vlieënier se noodroep het al meer desperaat geword.

 

In die vliegtuig het die soldate gekreun van die pyn. Die lugmagkapelaan, wat in die romp van die bomwerper geskuil het, was die enigste lid aan boort wat nie in die aanval gewond is nie. Die vlieënier het met al sy krag op die stuur van die vliegtuig geleun in ’n poging om dit bo-oor die heuwel, wat vinnig nadergekom het, te vlieg. Oor sy skouer het hy na die kapelaan geroep om soveel moontlik van die bagasie uit die vliegtuig te gooi om dit sodoende ligter te maak. Die kapelaan het dit gedoen, maar die vliegtuig was steeds te swaar en die berge was nou gevaarlik naby. Sou hulle sterf?

 

Die vlieënier het sy oë gesluit en vir oulaas met al sy krag op die stuur geleun in die hoop dat dit oor die heuwel sou kom. Net voordat die vliegtuig die heuwel tref, het dit skielik opwaarts geskiet en die bergtoppe en bome gemis. Met die Engelse Kanaal in sig, het die vlieënier verlig uitgeroep: “Kapelaan, ons het dit gemaak!” Dit was egter doodstil in die vliegtuig. Na ’n paar minute, het die vlieënier oor sy skouer gekyk en geskok besef dat die kapelaan nie meer aan boort van die vliegtuig was nie. Met die naderende bergtoppe, het die kapelaan uitgespring omdat hy besef het dat sy gewig die res van die bemanning se lewens sou red.

 

Besef jy dat Jesus 2000 jaar gelede aan ’n kruis op Golgota vir ons presies dieselfde gedoen het? Hy het besef dat ons mense nooit die mas sou kon opkom om sonder sonde voor God te staan nie. Daarom het hy gewilliglik sy lewe vir ons opgeoffer.

 

In Johannes 3:16 lees ons: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” En tot vandag toe nog sit Jesus langs sy Vader om vir ons in te tree: “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons” (Romeine 8:34, 1983-hersiening).

 

Kom ons onthou hierdie Paasfees om God te dank vir wat Hy vir ons gedoen het. En kom ons leef só dat ons ons liefde aan Hom demonstreer. Sterkte.

 

Vader God, baie dankie dat U, u Seun Jesus Christus gestuur het om aan die kruis vir ons sonde te sterf. Help my om so te leef dat U trots op my kan wees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 


Los jou kommentaar en laat weet my wat jy dink

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *