Deur Benescke Janse van Rensburg

 

Die mediese dokter, Victor Frankl het in die 1940s vier konsentrasiekampe oorleef. Van sy familie het slegs hy bly leef. “Hoe het jy dít reggekry?” wou ’n joernalis ná sy vrylating weet. Victor se antwoord was eenvoudig: “Alles kan van ’n mens weggeneem word, behalwe een ding: die laaste van jou menslike vryheid – om jou ingesteldheid in enige gegewe situasie te kies.”

 

In sy boek, Man’s search for meaning verduidelik Victor hoe mense in die konsentrasiekampe deur drie emosionele fases gegaan het: skok in die eerste paar dae nadat hulle arriveer het, apatie en “emosionele dood” en dan die ontnugtering met die lewe ná vrylating. Daar was egter een teenvoeter vir dié emosies (wat hom en van die ander gevangenes deur die donkerste tye gedra het): Om te midde die verskrikking en swaarkry ’n doel vir hulle lewens te vind (byvoorbeeld iets of iemand buite die kamp te hê waarvoor jy wil bly leef). Mense wat dít verloor het, het dit gewoonlik nie gemaak nie.

 

Die Covid-19-pandemie het ons almal op een of ander manier geraak. Sommige is by die werk afgelê, ander moes ’n besigheid se deure sluit en nog ander moes langs ’n oop graf van ’n geliefde afskeid neem. Dalk lyk jou krisis vandag anders – ’n gebroke hart omdat jou huwelik uitmekaarval of dalk het iemand jou uit ’n groot som geld gekul of iemand naby aan jou het jou dalk in die rug gesteek. Elkeen van dié krisisse vul ons met skok, ontnugtering, apatie en selfs “emosionele dood”.

 

Paulus was ook eens daar. In 2 Korintiërs 11:24-25 skryf hy: ”Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry, drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek ‘n dag en ‘n nag in die oop see deurgebring. Buiten hiervoor was daar gevare van riviere, rowers en vals broers. Daar was nagte sonder slaap, honger en dors en soms geen skuiling teen die koue nie. Hoe het Paulus te midde van al hierdie uitdagings positief gebly? Hy het sin in die lewe gevind. Sy doel was om soveel as moontlik mense dissipels van Jesus te maak. Dít is ook ons elkeen se doel op aarde.

 

So hoe vind ons sin in hierdie onseker 2021 wat voor ons lê? Ons kies om ons oë op God te hou en doelbewus te soek na geleenthede om goed te wees vir anders wat ook rondom ons swaarkry – soms in gebed en ander kere deur iets prakties vir hulle te gee wat hulle benodig. Deur dít te doen, skyn ons God se lig in hulle situasies in terwyl ons terselfdertyd sin in ons eie lewens vind.

 

As gelowiges is ons nie gevrywaar van moeilike tye nie. Ons leef in ’n gebroke wêreld, maar ons dien ’n goeie God. Hy dra ons. Hy versterk ons. Dit is ook Hy wat in 2 Korintiërs 12:9 sê: “My genade vir jou is genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Sterkte.

 

Vader God, baie dankie dat ons in ons swakheid na U kan kom omdat ons weet dat net U ons kan versterk. Vul my asseblief met U krag en versterk my. Help my om opnuut die sin in die lewe te vind. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

 

  • Benescke Janse van Rensburg se nuwe boek, God is stééds God met meer as 60 kragtige hedendaagse geloofstories van mense is nou beskikbaar: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Die ander getuienisboek, God was Dáár is ook nou in herdruk beskikbaar. Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys.