Deur Benescke Janse van Rensburg

 

Vroeër die week het ek hierdie e-pos van ’n Vers-n-Dag leser ontvang. Haar storie het my diep geraak en weer herinner dat ons moet glo soos ’n kind.

 

Marga: “Verlede jaar, ’n dag voor Valentynsdag, het ek mismoedig voor my dogtertjie se skool gestop. Daar was net R72.66 in my bankrekening. My salaris sou eers op 15 Februarie inbetaal word. Ek was doodmoeg. Buiten dat ek dae laas behoorlik geëet het, was ek teleurgesteld in myself. Hoe is dit dat ’n eens topstudent op skool, hier gesit het sonder hulp, sonder kos en sonder hoop?

 

“Sedert my egskeiding 5 jaar vantevore, het baie dinge verander. Ek moes my halfdagpos vir ’n voldagpos verruil om vir ek en my kind te sorg. Ná die Januarie-uitgawes van nuwe skoolklere en skryfbehoeftes, was ek platsak. Toe my kind dus ’n week vantevore, uit haar vel van opgewondenheid, aankondig dat hulle rooi, wit of pienk moes dra en dat die juffrou ’n prys sou gee aan die kind met die oulikste uitrusting, het ek gehoop dat sy daarvan sou vergeet. Ons het geen geld gehad vir ’n nuwe uitrusting nie.
“My kind het my daardie middag oudergewoonte met ’n breë glimlag omhels – ten spyte daarvan dat sy vir 3 dae lank net Weet-Bix by die huis gekry het om te eet. In die motor op pad huis toe het sy my opgewonde herinner dat môre die dag was wat hulle ekstra mooi moes aantrek!

 

“In haar gebed daardie aand het sy gebid: ‘Liewe Jesus, dankie vir my mooi rokkie wat ek môre gaan dra.’ Sy het vas geglo dat ek vir haar ’n rokkie gereed sou hê. Haar kinderlike geloof het my met ’n knop in die keel die deur agter haar toegetrek. In die voorvertrek van ons eenmanswoonstel het ek egter bitterlik begin huil. ‘Here, hoekom dit? Help asseblief!’ het ek gebid.

Alhoewel ek geen naalwerkkundige is nie, het ek na ons klerekas wat ons deel gestap. Tussen my klere, het ek ’n ou rooi satynromp ontdek en ’n helderkleurige rokkie van my dogtertjie (wat amper te klein vir haar was) uitgehaal. Stadig het ek die rooi satyn van my rok begin lossny voordat ek dit stuk vir stuk aan haar rok begin vaswerk het. My hande het gewerk asof dit nie my eie was nie. In die vroeë oggendure, het ek haar ‘nuwe rokkie’ op ’n hanger voor ons bed opgehang. Onder die rokkie, het ek ’n ou paar skoene van my kind neergesit wat ek met my enigste rooi naellak oorgeverf het.

“Daardie volgende oggend is ek (en ek dink ons hele woonstelblok) deur my 5-jarige dogtertjie se opgewonde skril stemmetjie wakker gemaak: ‘Mamma, jy het onthou!’ Met bewende hande het sy die rokkie van die hanger afgehaal en aangetrek. Ons het krale om haar nek gesit en knippies in haar hare. Sy het pragtig gelyk!

“Nadat ek my dogtertjie by haar klas afgelaai het, het ek teruggestap motor toe. Meteens het ek hierdie woorde in my hart gehoor: ‘Glo soos ’n kind.’ Met trane wat oor my wange loop in die propvol skoolterrein het ek besef dat my kind nie vir ’n oomblik getwyfel het dat ek vir haar ’n rokkie sou hê nie. Tog twyfel ons volwassenes so maklik dat ons Vader, die Skepper van die Heelal, aan ons behoeftes kan voorsien. Hy is liewer vir ons selfs as wat ons vir ons kinders is. En Hy is selfs meer op ons behoeftes en begeertes ingestel as wat ons op ons kinders s’n is. Ons moet net begin om Hom te vertrou soos ’n kind!”

Marga is reg. God wil sy goedheid prakties aan ons demonstreer. In Matteus 17:20 sê Jesus: “As julle maar geloof het so groot soos ‘n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” Mag ons op hierdie Liefdesdag leer van Marga se dogter dat, in stede daarvan om alles te probeer verstaan, ons eerder opnuut geloof moet hê soos ’n kind in hierdie God wat ons aanbid! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U ons elkeen se behoeftes en begeertes ken. Help my asseblief om nie my oë van U af te haal nie, maar om soos ’n kind te bly glo in U goedheid. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.