DSCF1286

Deur Benescke Janse van Rensburg

(LEES VOLLENGTE GETUIENIS ONDERAAN)

’n Leser skryf onlangs: “Ek sukkel om te glo dat God ’n plan met my lewe het. Kan jy help?” Ek deel graag met jou ’n kort deel van Ilse Kleyn, Kaapse kunstenaar, se getuienis wat my diep geraak het – en hopelik ook dié vraag kan help beantwoord:

Rondom 20:00 die aand het Ilse se ma, Delene aan hulle voordeur kom klop. Sy het ’n dringendheid in haar hart ervaar dat hulle so gou moontlik by die baba in ’n nabygeleë plakkerskamp moes uitkom. Vroeër daardie dag het sy geskok na foto’s gekyk van die baba wat ’n kollega by die werk vir haar gewys het.

Ilse se eerste reaksie was: “Wie stap 20:00 in die aand in ’n plakkerskamp in om aan ’n onbekende se deur te gaan klop en te vra om haar baba te sien?” Haar ma was egter oortuig dat sy die stem van die Heilige Gees gehoor het.

Met hulle aankoms by die plakkershut was die baba totaal gedehidreer. Dit het gelyk asof die ma van die kind, wat as prostituut werk, vergeet het om die kind vir 24 uur iets te ete of drinke te gee. Hulle het dadelik met die kind hospitaal toe gejaag. Dáár het die dokter gesê dat indien hulle twee ure later daar sou wees, die kind dit moontlik nie sou maak nie. Die babaseuntjie was reeds naby aan ’n koma.

’n Intense ingrypingsproses saam met maatskaplike werkers is gevolg om die kind na ’n plek van veiligheid te bring. Na nog ’n lang proses het Ilse en haar gesin eindelik daarin geslaag om die klein blondekop, blouoog seuntjie, Johannes as hul eie kind aan te neem. Vandag gaan dit goed met hom. Hy is nou 6 jaar oud en het in verlede jaar die rol van Racheltjie de beer se boetie in die film, Racheltjie de beer vertolk.

In Psalm 139 lees ons dat God van ons elkeen weet: “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. . .” In Jesaja 49:16 sê God self: “Ek het jou naam in my handpalms gegraveer. . .” Ook in Lukas 12:7 lees ons: “Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie.”

Het God die verwaarloosde seuntjie in die plakkershut gesien? Het dit Sy hart gebreek? Het Hy die gebede gehoor van Violet – ’n vrou in die plakkerskamp wat vroeg reeds die situasie opgesom het en Johannes se ma oortuig het om nie ’n aborsie te doen nie omdat sy hom sal “koop” net sodat hy bly leef? Verseker.

God het ’n plan met elkeen van ons se lewens. Hy is vir ons almal ewe lief. Net soos Hy ’n groter plan met Johannes se lewe het, het Hy ook ’n plan met ons elkeen se lewe. Kom ons vertrou Hom om dit tot uitvoer te bring. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat elke mens op aarde vir U belangrik is. Help my asseblief om opnuut bewus te word van U aanvaarding en beskerming in my eie lewe. Ek vra dit in Jesus Naam. Amen.

Familiefoto kort na die aanneming.

Fotos op stel vir Racheltjie de Beer:

Artikel soos verskyn in Vrouekeur: Lees onderaan

Artikel soos in Vrouekeur verskyn:

 Van polisievrou tot kunstenaar tot aanneemma

 Deur Benescke Janse van Rensburg

 Ilse Klein was vir bykans twee dekades in die polisiediens voordat sy haar skilderloopbaan begin het. Min het sy ooit verwag dat sy ’n aanneemma sou word. . .

“Die vrou het na my en my man gekyk en gesê dat sy ons drie kinders sien,” vertel Ilse Kleyn as sy terugdink aan ’n oggend, 21 jaar gelede, toe sy en haar man ’n kerkdiens bygewoon het. “Die vrou het ’n sterk profetiese gawe gehad. En alhoewel ek en my man, wat in daardie stadium beide in die polisiediens was met ons karige salarisse besluit het dat ons net ons twee dogtertjies sou hê omdat ons nie ’n derde kind kon bekostig, het die vrou aanhou sê dat sy ons met drie kinders sien. Die jongste was ’n seuntjie. Ons het dit gehoor, maar daar gelos. My man was immers reeds vir ’n operasie dat ons nie weer sou swanger word nie.”

Vir Ilse was dit ’n groot stap om ná 16 jaar die polisiediens uit die polisie te bedank om haar skilderloopbaan na te streef en ook meer tyd saam met haar kinders te spandeer. “Dit was ’n groot gewaarwording vir my om te besef dat ek nie regtig my kinders geken het nie. In die polisie het ek en my man twee verskillende skofte gewerk. Buiten dat ons mekaar min gesien het, het ons ook ons kinders baie min gesien. Hulle het van die een ouma, skooltjie toe gegaan en dan weer na die ander ouma.”

Min het Ilse ooit verwag dat sy haar kinders tuis sou onderrig. “Dit is iets vêr uit my verwysingsraamwerk. Tog, toe ek in my gees ervaar dat God my lei om dit te doen, was ek gehoorsaam.” Wat aanvanklik vir haar ’n groot uitdaging was, het binne enkele weke in die grootste seëning verander. Haar kinders was in daardie stadium Graad 9 en Graad 6. “Ons kon soggens saam om ’n tafel sit en Bybel lees en bid. Ons kon ook begin bid vir ons kinders se toekoms en dat hulle hul skeppingsdoel uitleef.”

Op die regte tyd op die regte plek. . .

“My ma, Delene Kleyn, werk vir ’n nie-winsgewende organisasie, Shiloh, in Kaapstad. As deel van hulle werk reik hulle baie uit na kinders in plakkerskampe om te verseker dat hulle goed versorg word,” vertel Ilse. “Op Nuwejaarsdag 2013 is my ma vinnig in kantoor toe om die plante te gaan natmaak. Een van hul skoonmakers het spesiaal daardie dag kantoor toe gekom in die hoop dat sy my ma daar sou kry. Sy het kom vertel van ’n ma wat oorkant haar in die plakkerskamp woon met ’n klein pasgebore baba. Die ma, wat self as ’n prostituut werk en dwelms misbruik, het die kind geweldig verwaarloos. Sy het vir my ma foto’s van die kind gewys en dit was duidelik dat die ma en kind nie op ’n goeie plek was nie.”

Ilse se ma woon in ’n tuinwoonstel agter hulle huis. Met haar terugkeer by die huis het sy die foto’s van die verwaarloosde baba vir Ilse gewys. “In my hart het ek geweet dat ons iets vir hierdie klein seuntjie moes doen. Hy was duidelik nie in goeie hande in daardie stadium nie.” Ilse het dadelik ’n vriendin van haar, Lehanie Elliott wat Heaven’s Gate bestuur, ’n veiligheidshuis vir babas. “Ons wou weet wat ons kon doen om die baba te help.”

Daardie selfde aand rondom 20:00 het Ilse se ma aan hulle huis se deur kom klop en gesê dat sy ervaar dat hulle dadelik na die kind moes gaan. Ilse lag. “Eers het ek vir my ma gesê dat sy moes rustig word. Wie stap 20:00 in die aand in ’n plakkerskamp in om aan ’n onbekende se deur te gaan klop en te vra om haar baba te sien? My ma was egter oortuig dat dit was wat sy moes doen. Sy het twee kollegas by Shiloh gebel en hulle is toe na die plakkerskamp om die baba te gaan soek.”

Met hulle aankoms by die huis waar die ma met die baba was, was hulle nie voorbereid vir wat sou volg nie. “Die baba was op ’n baie slegte plek – naby aan ’n koma. Dit was kompleet asof die ma die hele dag weens die gekuier van die aand vantevore van die kind vergeet het. Die kind was totaal gedehidreer en dit het gelyk asof hy niks te ete of drinke die hele dag gehad het nie.”

Delene se kollegas het met die kind hospitaal toe gejaag. “By die hospitaal het die dokter gesê dat as die kind 2 ure later opgedaag het, dit te laat sou wees. Hy was totaal gedehidreer,” vertel Ilse. “Daardie volgende oggend het ek ervaar dat God vir my sê dat dít my seuntjie was vir wie ek soveel jare gewag het.”

Die groot besluit. . .

Die groot uitdaging vir Ilse was om nou verby haar man te kom. Sy lag. “My man wou nie eens my derde kind hê nie. Wat nog te praat van ’n aanneemkind.” Vir Ilse het dit ’n gebedsaak geword. “In my hart het ek geweet dat as hierdie van God was, Hy my man se hart sou versag. In gebed het ek aan die belofte in Ezra 1 vasgehou dat God ’n koning se hart teenoor die kinders kon versag.” Vir haar sou haar man se toestemming ’n teken wees dat hierdie seuntjie hulle sin is.

Ilse se vriendin van die veiligheidshuis het dadelik met die papierwerk begin vir die klein seuntjie sodat hy na die veiligheidshuis geskuif kon word nadat hy ontslaan sou word uit die hospitaal. Aangesien die storie Ilse se hart geraak het, het sy en haar selgroep begin om doeke, klere en formulemelk in te samel – ook vir Lehanie se ander ses babatjies na wie sy in die veiligheidshuis omgesien het.

Ná die insameling het Ilse aangebied om dit by die hospitaal vir Lehanie af te gee. “My man het gesê dat hy wou saamry,” vertel Ilse. “Hy het gedink dat ons dit net vinnig gaan aflaai voordat ons as gesin by ’n koffiewinkel sou gaan koffie drink.” Dit was ’n weeklikse gewoonte wat hulle as gesin gehad het.

By die hospitaal het Ilse, haar man en haar dogters uitgeklim om na die klein seuntjie te gaan kyk en die babagoedjies af te gee. “Toe ons in daardie hospitaalsaal instap, het my dogters albei onmiddellik begin huil. Hulle was toe 16 en 13 jaar oud. My man se rug het so styf geword. Hy het die seuntjie vasgehou vir ’n rukkie en toe gesê dat ons moet ry. In die koffiewinkel het hy my lank aangekyk en toe gesê: ‘Mamma, ek dink die Here sê daardie is ons seuntjie!’ In daardie oomblik het ek geweet dat ek reg gehoor het. Dit wás ons kind!”

Hy het die gebede gehoor

Die proses van aanneming is begin. “Terwyl die seuntjie nog in die hospitaal was, het ek op ’n dag gestaan en stryk by die huis terwyl ek met God oor die kind gepraat het. Ek wou weet wat sy naam moes wees. In my hart het ek gedink aan een of ander fancy naam – my man is afkomstig van die Franse Hugenote. Duidelik het ek egter in my gees gehoor: Johannes. My aanvanklike reaksie was: ‘Agge nee, dis so Afrikaanse naam.” Sy lag.

“Ek het Lehanie gebel om haar te vra wat die seuntjie se naam is. In daardie stadium het ons almal net van hom as ‘Babatjie’ gepraat. Lehanie het my vertel dat sy met die invul van sy papiere om hom in pleegsorg te plaas, ’n naam benodig het. Sy het gaan bid en duidelik gehoor sy naam moet Johannes wees. Johannes beteken, ’n geskenk uit God se hand en genade vir ons. Dit is presies wat hierdie seuntjie vir ons almal is.”

In verlede jaar het Johannes, wat nou ses jaar oud is, ’n geleentheid gekry om die rol van Racheltjie de Beer se boetie in ’n plaaslike film te vertolk wat Oktober hierdie jaar vrygestel gaan word. “Vir almal op die stel was hy net lig. Hy het ’n vermoë om baie vinnig in jou hart in te kruip. En hy is werklik wat sy naam beteken – ’n genadegawe uit God se hand!”

“Wat my telkens aanraak as ek na Johannes kyk,” vertel Ilse, “is God se liefde. Agter Johannes en sy ma in die plakkerskamp het ’n vrou Violet gebly. Sy het die situasie reeds vroeg opgesom en begin bid vir hierdie klein ongebore baba. Sy het Johannes se ma oortuig om nie ’n aborsie te doen nie deur aan te bied om hom na sy geboorte by haar ‘te koop’ net sodat hy kan bly leef.” Ilse moet ’n slag hard sluk. “Hierdie wete vul my met ontsaglike dankbaarheid teenoor God. Ek kan nie help om te wonder of ek Johannes ooit in my arms sou kon vashou as dit nie vir hierdie vroutjie se onselfsugtige gebede in ’n plakkershut was nie!”