Dag 16: Is iets vir Hom onmoontlik?
Deur Benescke Janse van Rensburg
Vir 10 jaar lank was Katie Renshaw van Brittanje in ’n rolstoel vasgekluister. Met haar serebrale verlamming het dit gedink dat dít heel moontlik haar lot in die lewe sou wees. Drie jaar gelede het sy egter ’n 9-uur-lange operasie ondergaan om haar voete en bene reguit te maak. Hierna het intense fisioterapie sessies gevolg. Groot was almal se verbasing toe sy verlede jaar haar eerste tree gee. Vroeër die week is Katie se eie verwagtings nog ’n stappie verder oortref toe sy genooi is om saam met van die wêreld se topmodelle op die loopplank te stap by die Londen Modeweek!
God spesialiseer daarin om die onmoontlike in ons lewens moontlik te maak. Ons sien dit regdeur die Bybel. Abraham was 100 jaar oud toe hy pa geword het. Josef was een dag ’n gevangene; die volgende dag was hy onderkoning van Egipte. Gideon was die jongste kind uit ’n “swak” familie, maar God het hom gekies om Rigter van Israel te wees. En Ester, ’n weeskind, is as koningin van die land gekies, waarna God haar gebruik het om die Jode teen uitwissing te red.
Watter situasie in jou lewe staan soos ’n reus voor jou? Benodig jy restourasie in jou huwelik of dalk ’n gebroke verhouding met ’n familielid of vriend? Bid jy vir verlossing van ’n verslawing? Benodig jy liggaamlike genesing? Of smag jy dalk daarna om ’n huweliksmaat te ontmoet of self swanger te word?
In Jeremia 32:17 lees ons: “Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?” In Lukas 18:27 sê Jesus: “Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik.” In Efesiërs 3:20-21 staan geskryf: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe . . .”
Katie het gedroom daarvan om self te stap. Hierdie droom is totaal oortref toe sy nie net self kan stap nie, maar genooi word om as model op een van die gewildste loopplanke ter wêreld te kon stap! Wanneer God ingryp in ons lewens, werk dit baiekeer op dieselfde prinsiep. Hy gryp in en demonstreer aan ons sy grootheid en liefde – vêr meer as wat ons kan bid of dink. Mag ek jou aanmoedig om Hom te bly vertrou – al raak dit ook hoe moeilik! Sterkte.
Vader God, ek prys U vandag vir U grootheid en goedheid. Help my asseblief om U nie langer met my ongeloof te beperk op wat U in my lewe kan doen nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Hier is die 10-jarige Katie nadat sy verlede jaar se die intense operasie ondergaan het.
Salie Vorster (S.F.J.) (082 923 1622)
Baie mooi en inspirerend dit laat my dink aan die wrok wat ek al 23 jaar dra en baie keer in opstand kom. Ek bid daaroor maar die seer bly maar my gebed is dan seker nie opreg nie want as dit was sou GOD my regtig gehelp het ek weet dit. Sterkte SEEN wense!!!!!!!
Colleen
Benescke jy is ongelooflik inspererend, ek kan nie wag om elke oggend jou stukkie te lees nie. Deur jou het ek al vele dinge in my lewe in perspektief kon kry!!
JULIANA
Alle eer aan Ons Hemelse Meester,,,,,, Hy weet wat ons nodig het………
Claudia Van Biljoen
God bly getrou. HY is n GOD van die ONTMOONTLIKE.Soos my vriendin altyd se HY KOM nommer 99 in. HY sal ons nooit begewe of verlaat nie. HY is Staatmaker die FONDAMENT waarop ons kan bou.
Mag ons altyd geseund bly in die Naam van die Vader die Seun en die Heilige Gees.
Amen. Baie dankie Benescke en Groep. Mag hierdie Reeks van u hul Geseend bly want dit is n stiggting vir ons siele hierbuite.
Madelein Bothma
Wow! Wie kan nog twyfel? Ons dien n “Awesome” God. Ons moet net glo en vertrou, God se tyd is altyd perfek! Baie dankie Benescke vir die getuienisse wat jy altyd met ons deel!
Sarie Greeff
Watter pragtige positiewe storie. Ek was ook so ‘n geseënde mens. Ek het verlam geword 39 jaar terug, en Jesus het my uit ‘n rollstoel opgetel, vandag doen ek alles…. Niks is vir my God te groot nie. My anker vers was. EK IS TOT ALLES INSTAAT DEUR CHRISTUS WAT MY KRAG GEE.