DAG 21: GOD SE TYD IS PERFEK
Deur Benescke Janse van Rensburg
Ek wil die reeks afsluit met ’n persoonlike getuienis van hoe ek God se goedheid oor die afgelope 11 weke in my lewe beleef het. In die tweede week van September het ek my been gebreek. Ek is geopereer. Twee weke daarna het ons na ’n nuwe huis getrek. My ma kon gelukkig uit die Vrystaat kom help pak en trek aangesien ek totaal afhanklik van almal om my was.
Aangekom in die nuwe huis, het die swaar bokse tot teen die dak gestaan. Een oggend, uit pure frustrasie, het ek besluit om ’n werksgeleentheid in te stuur na Radio Tygerberg se Werksverskaffingsbulletin. Weekliks word luisteraars in dié inset van werksgeleenthede vertel waarvoor hulle kon aansoek doen. Ek het die versoek as Mevrou Botha (my ma) ingestuur wat iemand benodig om te kom uitpak en bokse skuif. Die aansoeke het ingestroom. Hoe op dees aarde sou ons die regte aansoeker kies? My ma se voorstel was dat ons net bid en vertrou dat God ons sou lei. Uit die bykans 70 WhatsApp-boodskappe, het ons vir Veronica gekies.
Veronica het opgedaag en binne die eerste dag reeds ’n groot verskil gemaak. Tussen die uitpak deur, het ek uitgevind dat sy eintlik ’n opgeleide joernalis is wat vir ’n groot mediagroep in Suid-Afrika gewerk het voordat sy Kaap toe getrek het. Sy was egter reeds vir 11 maande by die huis. Ten spyte van 300 plus CV’s wat sy uitgestuur het (en die feit dat sy 6 tale magtig is), kon sy net nie ’n werk kry nie. In die verbygaan het sy genoem dat sy ’n bestuurslisensie het.
Die aand toe Veronica vertrek het dit my getref dat ek ’n bestuurder gaan benodig wanneer my ma terugkeer huis toe aangesien ek vir ses weke nie kon bestuur nie. Gou het ek daarin geslaag om te reël dat Veronica in die nuuskantoor by die radio kon uithelp terwyl ek uitgesaai het. Sy sou in elk geval andersins net sit en wag. Die bestuur het haar 3 dae gegee om haarself te bewys. Sy het en gou is sy met oop arms verwelkom om vir die res van die tyd wat sy my rondry daar uit te help. Op die laaste dag van die rondry is Veronica as joernalis aangestel in ’n nuwe afdeling by die radio.
In die 11 maande by die huis, moes Veronica opnuut leer om God vir voorsiening te vertrou. Dag na dag het sy Hom ook gevra om vir haar ’n deur oop te maak vir werk. Op die dag en manier wat sy dit die minste verwag het, het God vir haar ’n veel beter deur oopgemaak as wat sy opgehoop het.
Met die Bokbus se rit deur die Kaapse strate om die Rugby Wêreldbekeroorwinning te vier, was Veronica een van die min joernaliste wat ’n geleentheid gehad het om op die bus saam met die Springbokke deur die strate te ry. Hoe radikaal het haar lewe nie binne twee maande verander nie?!
In Jeremia 32:27 sê God: “Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?” Ook in Openbaring 3:8 lees ons: Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het ’n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie.
God se tyd is nie ons tyd nie. Hy het aan my voorsien in elke behoefte wat ek gehad het. Hy het vir Veronica se verwagtings oortref. My gebed is dat ons nooit sal ophou om Hom te vertrou nie. Wat vir mense onmoontlik lyk, is vir Hom moontlik. Sterkte.
Vader God baie dankie dat U steeds wonderwerke doen. Help my asseblief om nie moed op te gee as my deurbraak bietjie lank neem nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Rensia
Goeie more
Ek wil net baie dankie se vir die praktiese manier waarop jou dagstukkies deurgegee word. Dit maak so n groot verskil in my daaglikse lewe. Hope seen vir julle !
Rensia
Connie Blomerus-Heese
Baie dankie Benescke vir jou daaglikse boodskappe en hierdie bemoedigende “wonderwerk” in jou en Veronica se lewens. Ons het ‘n wonderlike God!
Hettie van Tonder
Hi Beneschke.. jammer oor jou been! Hoop jy herstel gou en ten volle! Dankie vir jou praktiese ‘down to earth’ boodskappies en die manier waarop jy altyd die positiewe uitbring. Jy inspireer my. Ek het self ‘n paar getuigstukke oor hoe God in my lewe voorsien het en ek is so dankbaar daaroor. Gaan asb voort met die goeie werk wat jy doen! God gebruik jou magtig! Mag Hy jou dubbel en dwars seen! Groete! Hettie
JULIANA
Goeie more ….. baie dankie vir die daaglikse bood skappe…. vandag se boodskap het my weereens laat besef hoe wonderlik ons GOD is en hoe Groot hy…
” Alle eer aan ons God en ek vertrou Veronica geniet elke oomblik in haar werk geniet en weet dat sy tydsberekening is perfek……..”
Constance Van Willen
Baie dankie vir die bemoediging vanoggend . Ek het u getuienis vanoggend gevind en dit kom op die geskikte tyd. Baie dankie dat u dit met die gebroke wêreld gedeel het. ?Ek het dit so brood nodig. God seën.
Shirley
Good morning Benescke, just proof again of how Great our God is. Praise Him.
Charl Naude
Ons wil altyd in beheer wees van ons self en dan kom God en bewys die teen oorgestelde. Ons ken nie die die dag van more. Ek was baie opgewonde toe ek dit lees want die Here dra my elke dag, al is ek so steeks soos `n donkie. Hallelujah
Melton
Benescke, baie dankie vir jou inspirerende dagstukkies. God gebruik jou op wonderlike maniere. Jy is vir my ‘n groot inspirasie.
Lynnett
Benescke, jou dagstukkies is altyd ‘n inspirasie vir my. God is great !
Riëtte Heslinga
Liewe Benescke, baie sterkte met die herstel van jou been.
Baie dankie vir die afgelope maand se skrywes en inspirasie en veral vir vandag s’n. Ek staar my blind teen toe deure. Ek bid maar glo nie regtig-regtig nie.
So jaar of wat terug het ek jou by Woordfees ontmoet tydens dr. Henk Gous se boekbekendstelling van “Breekpunt”. Jy het gevra wat ek doen. My antwoord was: “Dis ‘complicated’”. Vandag het ek net besef hoe ek my eie lewe kompliseer omdat ek telkens dieselfde deure storm.
Mag jy en jou gesin ‘n wonderlike feesgety beleef. Geniet die nuwe huis!
Esther Winborn
hi benejcke , ek is van windhoek in Namibia en ek lees net jou dag stukkies want dit is so prakties en so pragtig en dit sit hoop in my in en n huppel in my stap geseend is jy met jou dagstukke in Jesus naam !
Natalie Arendse
Goeie dag liewe Benejcke
Jammer om te hoor oor jou been, maar daar deur het jy vir Veronica ontmoet. Wat in ‘n inspirende vrou is U. Soos almal noem, dit is die praktiese uitbeelding van ons alle daagse lewe wat jy uitbeeld en ek glo God gebruik jou om ander te raak hierdeur. God seen en mag Benejcke vir jare nog meer inspireer met die Dagstukkies. Gou gesond word en ‘n wonderlike feesgety met u familie. Veiligheid en gelukkigheid wens ek u en familie toe in u nuwe woning.
Martha Woest
MY GOD IS GROOT.GROTER AS ALLES HALLELUJA VIR VERONICA.
EK GLO DAT GOD MY HELP OM DEUR TE DRUK OM N RYBEWYS TE KRY OP 74.
Priscilla Malan.
Jou dagstukkies is werklik n groot inspirasie Benescke! Ons dien n God van wonderwerke Hy is groot en kom ALTYD Sy beloftes na.
Muriël
Hi Benejcke, Ek geniet jou dagstukkies baie en sien so uit wanneer jou nuwe maand weer begin Dis vir my baie inspirerend en dan besef jy hoe dankbaar jy eintlik moet wees & plaas maar jou behoeftes keer op keer eenkant. Hoop jy sterk gou aan baie liefde