unnamed
Deur Benescke Janse van Rensburg
Amy-Leigh. Dié naam het in bykans elke gesprek waarby ek die afgelope 24 uur betrokke was êrens opgeduik. Aanvanklik was die gesprekke gevul met vrees en skok oor die 6-jarige bruinoog dogtertjie wat Maandagoggend voor haar skool in Vanderbijlpark ontvoer is. Terwyl alles moontlike deur die polisie en die De Jager-familie gedoen is om Amy-Leigh terug te vind, het ’n groot klomp mense op sosiale media laat hoor dat hulle bid. Spesifiek dat hulle bid dar God sy engele sal uitstuur om Amy-Leigh veilig te hou en dat sy spoedig teruggevind sou word.

Teen vanoggend 02:00 was Wynand en Angeline de Jager, Amy-Leigh se ouers, steeds by die polisiekantoor – wagtend vir enige nuus van hulle kind. Wynand het buitentoe gestap om vars lug te kry, toe hy twee volwassenes met ’n kind by hulle aangestap sien kom. Die kind was Amy-Leigh! Die ontvoerders het haar minute vantevore by ’n winkelsentrum afgelaai en weggejaag. Toe sy huil en skree, het die volwassenes tot haar redding gekom en haar na die polisiekantoor vergesel.

Het God die gebede landwyd gehoor? Ek is oortuig daarvan. Is daar situasies waar mense ook bid, maar nie so ’n gelukkige einde beleef nie? Ongelukkig, ja. My hart breek elke keer as ek hoor van nog ‘n families wat ’n liggaam van ’n geliefde moes gaan uitken.
Wat my keer op keer uit die gesprekke rondom Amy-Leigh getref het, is hoeveel ouers in ons land vir hul eie kinders se veiligheid vrees. Ek verstaan dit. Ek het myself vanoggend betrap dat ek my 6-jarige dogtertjie se hand bietjie stywer vasgehou het toe ek haar by die skool gaan aflaai. Wat ons egter moet besef, is dat God in beheer bly. Hy beskerm ons kinders wanneer ons nie daar is om dit te doen nie. Hulle behoort immers aan Hom en is net aan ons as ouers geleen.
Mag ons onsself herinner aan die woorde in Psalm 91:9-11: “Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer, sal geen onheil jou tref . . . Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. . .” Ook in Psalm 91:14-15 lees ons: “‘Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,’ sê die Here, ‘omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm.’”
Ek kan nie help om te wonder wat weens al die gebede wat vir klein Amy-Leigh opgegaan het in die geesteswêreld gebeur het nie. Was daar engele wat haar beskerm het? Was die volwassenes daar geposisioneer om haar na veiligheid te begelei nadat sy vrygelaat is? Was haar pa buitekant die polisiekantoor sodat hy haar eerste kon sien? Ja, ons leef in ’n gebroke wêreld, maar ons aanbid die Een wat steeds in beheer van ons lewens en ons toekoms bly! Mag ons, ons oë altyd Hom hou. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U steeds my (en my geliefdes) se Beskermer is. Help my om nie toe te laat dat vrees my lamlê nie, maar om telkens te kies om my geloof in U te plaas. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.