Deur Benescke Janse van Rensburg

 

’n Paar weke gelede het ons by die radiostasie waar ek in die Kaapse Skiereiland betrokke is, ’n projek aangepak waartydens ons gesinne in finansiële nood gaan verras het met ’n groot sak gevul met kruideniersware. Luisteraars kon families nomineer wat hulle geweet het swaarkry. Ons het dan vyf gesinne gekies.

 

Die oggend voordat ons vertrek het om die geskenkpakke te gaan afgee, het ek deur die geskenkpak gekyk om te sien watter kruidenierswareprodukte die winkel gekies het vir die pak. Tussen al die kosprodukte, was daar een “vreemde” produk vir my, ’n pakkie popcorn. Terwyl ek daarna gestaan en kyk het, het ek by myself gewonder hoekom iemand popcorn sou kies, eerder as nog ’n pakkie rys?

 

By ons aankoms by een van die gesinne was daar baie trane. Lisa, ’n enkelouer van ’n tienerseun, kon nie glo dat iemand aan haar gedink het nie. Wat my geïnspireer het van haar, is hoe sy gekies het om deur elke storm wat haar getref het (en sommige dae wat daar amper niks in die huis was om te eet nie), God te aanbid omdat sy glo dat Hy haar en haar tienerseun se Voorsiener is (kyk gerus na die video onderaan).

 

Ná afloop van ons besoek, het ons hierdie boodskap van Lisa ontvang: “Gisteroggend staan ek in die winkel en is soooo lus vir gekoopte popcorn. Nooit regtig nie, maar gister. Toe ek sien dit kos R18, het ek dit teruggesit, want ek het besef dat dit ’n luxury is. Toe ek die kossak oopmaak, het ek amper na my asem gesnak. Heel bo in die kruidenierswaresak het ’n pakkie popcorn gelê – presies die soort wat ek teruggesit het! Wat ’n getuienis dat Vader selfs in ons kleinste begeertes voorsien en nie net in ons behoeftes nie.”

 

In Job 34:21 lees ons: “God sien alles wat ’n mens doen, Hy sien elke tree wat ’n mens gee.” In Jesaja 43:1 praat God self en sê: “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.” In Jesaja 49:16 sê hy: “Ek het jou naam in my handpalms gegraveer. . .” Ook in Lukas 12:7 lees ons: “Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie.”

 

Het God Lisa se lofprysing in haar storm gehoor? Verseker. Het Hy haar dalk voorberei om sy goedheid te beleef omdat Hy geweet het dat ons na haar op pad was? Ek is oortuig daarvan. God sien as ons Hom prys. Hy hoor as ons soms net ’n fluistergebed bid omdat die uitdaging in ons lewens so oorweldigend voel. Mag ons nooit vergeet dat ons elkeen se naam op sy handpalm gegraveer is. Dat Hy weet hoeveel hare op ons elkeen se kop is en dat Hy ons oneindig liefhet. Sterkte.

 

Vader God, baie dankie dat oor my omgee. Help my asseblief om my geloof en vertroue in U te behou te midde van enige storm in my lewe. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

  • Kyk na die video van die verrassing by benescke.co.za of op die sosiale media, Fbook se Stories van Hoop bladsy.