Deur Benescke Janse van Rensburg

 

In Maart vanjaar het ek ’n 21 dae-reeks, Die Deurbraak gedoen. Vir my was dit ’n absolute stap van geloof, maar een wat ek in gehoorsaamheid geneem het omdat ek dit as ’n geleentheid beskou het waartydens deelnemers God se hand prakties in hul lewens kon beleef.

 

Ons almal het areas in ons lewens wat nie lekker is nie. Vir sommige is dit ’n gebroke verhouding. Vir ander eensaamheid of ’n stryd met hul gewig. Nog ander sukkel finansieel en dan is daar die groep mense wat smag na ’n baba of huweliksmaat. Die probleem wanneer ons bid oor hierdie sake en nie dadelik ’n antwoord kry nie, is dat ons dit mettertyd as ons “lot in die lewe” begin aanvaar. Dít terwyl ons vergeet dat Jesus gekom het sodat ons ’n lewe in oorvloed kan smaak.

 

Tydens die reeks het deelnemers vir 21 dae lank van iets gevas terwyl ons spesifiek oor hierdie areas gebid het. Die uitdagings in ons lewens het ek met bome vergelyk wat in ons lewens opgerig word. Wanneer ons dit eerlik identifiseer en begin om daaroor te bid, is dit soos ’n houtkapper wat rondom die dik stam van die boom kap. Om finaal van die boom ontslae te raak moet ons ook die wortel daarvan identifiseer. Die oomblik dat ons die wortel kry en dit bely, is wanneer heelwat mense getuig dat die situasies begin verander.

 

Dit is nou reeds maande later en ek ontvang steeds getuienisse van mense wat vertel wat God in hulle lewens kom doen het. Daar is eintlik te veel om te noem – deelnemers wat na jare eindelik swanger is, gebroke verhoudings wat herstel is, mense wat werk gekry het, finansiële deurbrake en net gister ontvang ek ’n getuienis van ’n deelnemer wat jare lank gesukkel met met haar gewig wat getuig dat sy haar eerste 10kg kon afskud.

 

In Johannes 10:10 sê Jesus: “’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” In Johannes 14:13 sê Jesus: Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.”

 

Dink vir ’n oomblik aan die dinge in jou lewe wat tans nie lekker is nie. Hoe sal jou lewe lyk as God ingryp en dáái situasie verander? Wil jy Hom nie ’n slag vertrou sodat Hy verheerlik kan word nie? Sterkte.

 

Vader God, vandag bring ek (noem jou situasie) na U toe. Wys my asseblief wat die wortel van die uitdaging is. Versterk my deur u Heilige Gees om te weet hoe om die bepaalde uitdaging te hanteer. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.