Deur Benescke Janse van Rensburg 

 

Die stories op gister se voorblad van Die Burger het my geruk. Aan die een kant van die voorblad was die storie van die pragtige paartjie, Jolandi en André Le Roux. Om Jolandi se 31ste verjaarsdag te vier het sy en André Sondag saam met nog familielede die Chapmanspiek-uitkykpunt by Houtbaai besoek. In ’n fratsongeluk het haar voet gegly en sy het na haar dood geval. Sy en Andrew was net meer as ’n jaar getroud. 

 

Langs dié storie op die voorblad, was die storie van oud-Springbok, Naka Drotské. Hy en vriende van hom is verlede Donderdagaand op ’n kleinhoewe deur rowers oorval. Naka het terugbaklei en is in die proses gewond. Hy het baie bloed verloor. Op pad hospitaal toe saam met oud-Springbok, Os du Randt, was Naka in die motor oortuig dat hy besig was om te sterf. Hy het ’n lys van sy polisse vir Os te gee en hom gevra om vir sy vrou te sê dat hy haar lief het. Dat hy oorleef het, is ’n wonderwerk.

 

Beide dié stories het hy aan die onvoorspelbaarheid van die lewe herinner. Nie Jolandi of Naka sou die oggend voor die gebeure kon raai dat hul dag só sou eindig nie. Net so, kan vandag dalk ons laaste dag op aarde wees – of dalk ’n geliefde se laaste dag. Met dít in gedagte: Hoe klink ons gesprekke? Getuig dit van liefde en omgee of baklei ons steeds oor klein onbenullighede? Ook, leef ons in vrede met alle mense of is daar iemand met wie jy moet gaan regmaak?

 

In Romeine 12:18 lees ons: “As dit moontlik is, sovêr dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” Ook in Hebreërs 12:14 lees ons: “Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.”

Leef jy in vrede? Indien nie, doen moeite om te gaan regmaak. Kom ons kies woorde van liefde en respek teenoor alle mense. Kom ons gee mekaar drukkies en vertel ons geliefdes dat ons hul lief het. Nie een van ons verwag dat slegte dinge om paaie mag kruis nie, maar as dit doen, mag ons gereed wees om ons Maker te ontmoet. Sterkte.

 

Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U my hoeveelheid lewensdae ken. Help my om goed te wees vir die mense om my en oor niks spyt te wees nie. Ook, wys my asseblief deur u Heilige Gees as daar iemand is met wie ek moet gaan regmaak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.