“Weet jy hoe moeilik is dit om vir ander ouers se prematuur babatjies te bid sonder om God te verwyt omdat myne nie meer daar is nie?” Ek kyk na die vrou voor my. Haar rou emosie tasbaar in die trane in haar oë. Vir ’n oomblik is sy gestroop van haar gewone glimlag en selfbeheersing, terwyl ’n stukkie van haar gebroke hart ontbloot word.

 

Sewe maande gelede het sy langs die graf van haar klein, pasgebore, prematuur babatjie staan. Haar swangerskap, terwyl sy reeds in haar 40’s is, was ’n wonderwerk. Die ongebore baba ’n antwoord op haar jare lange gebed vir nog ’n kindjie. Hy het elf ure geleef. Sy het hom slegs ’n paar minute vasgehou. Al wat oorgebly het, is ’n leë bababedjie, ’n gebroke hart en baie vrae. Komplekse vrae. Waarom het sy weer swanger geword as dit só sou eindig? Waarom het God nie haar kind genees toe die komplikasies ingetree het nie?  En wat moet sy haar ouer seuntjie antwoord as hy vra waarom Jesus  sy boetie weggeneem het?

 

Gestroop van antwoorde, het God se woorde in Jesaja 55:8-9 deur my kop gemaal: My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.” Ook in Psalm 34:19 lees ons: “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.”

 

Met haar emosies weer onder beheer, het die vrou verder gepraat. Sy het my vertel dat sy vandag weet dat God vir haar die deur oopgemaak het om met haar werk spesifiek in die kraamafdeling nuwe ma’s van prematuur babas te behandel. Haar eie seer vul haar met dieper empatie. Sy kan ouers ook beter ondersteun wanneer die druk van ’n prematuur baba die oorhand wil kry. En dan sluit sy af: “Jy weet, al verstaan ek steeds nie alles nie, weet ek dat Hy vir my genoeg is.” Sjoe.

 

Pyn en verlies is moeilik om te verduidelik. Daar is gewoonlik baie vrae. Wat ons wel kan weet, is dat God ons vertroos en dat Hy selfs die moeilikste situasies kan gebruik om ons te vorm om weer ander te vertroos wanneer as ons eers deur die dal van doodskaduwee is. Die ware toets van ons geloof en liefde vir Hom is egter dít: Is Hy werklik genoeg as ’n kind sterf, ’n huwelik in ’n egskeiding eindig, ons bankrot verklaar word of ons bid vir genesing en ’n geliefde steeds sterf? Situasies kan verander, maar Hy verander nooit nie. Sterkte.

 

Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U die groter prentjie sien selfs al maak niks vir my in my eie lewe sin nie. Help my asseblief om U vertroosting in my eie lewe te ervaar wanneer ek gebroke en weerloos voel. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

Opdrag vir die dagDink vir ’n oomblik terug aan ’n situasie van verlies of seer uit jou verlede. Hoe het God jou deurgedra – en selfs die situasie in jou lewe gebruik? Het jy Hom al daarvoor bedank?