Deur Benescke Janse van Rensburg

 

Ek het verlede week iets mooi beleef. Tydens my radioprogram op Radio Tygerberg in die Kaapse Skiereiland het ek ’n SPAR-geskenkbewys ter waarde van R1000 gehad wat ek kon weggee. Met só promosie is daar gewoonlik binne sekondes honderde boodskappe wat op ons SMS-lyn inkom. Die wenner word lukraak aangewys.

 

Ek het besluit om die wenner regstreeks op die lug te bel. Die luisteraar was oorstelp. Sy kon skaars praat. Op die vraag wat sy met die R1000 gaan doen, het sy gesê dat sy nou geld gehad het om kos te koop vir hierdie Kerstyd. Dit het my hart geraak.

 

’n Dag of wat later het die vrou die geskenkbewys by die radio kom afhaal. Sy het vertel dat hulle regtig swaarkry omdat niemand in die huis tans werk nie. Haar kinders het haar gevra of hulle weer soos verlede jaar met Kersdag by familie gaan eet. In geloof het sy gesê: “Nee, hierdie Kersfees gaan ons by die huis lekker eet. God sal voorsien.” Daar was geen vooruitsigte daarvoor nie. Net geloof.

 

Nadat ek haar gebel het, het sy die nuus met haar kinders gedeel. Sy het vir hulle gesê dat hulle nou kos sou kon koop. Hulle het nou net vleis benodig om ’n feesmaal vir Kersdag voor te sit. Sy het dit skaars gesê toe haar telefoon weer lui. Dit was ons ontvangsdame by die radio. Ná my gesprek met haar op die radio het ’n luisteraar na die radiostasie gebel om die wenner se bankbesonderhede te kry. Hy wou haar met ’n verdere bydrae seën. In trane het sy die telefoon neergesit en vir haar gesin gesê: “God het voorsien!”

 

In Markus 11:22-24 sê Jesus: “Julle moet geloof in God hê! Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.’”

 

Het God die luisteraar se geloof gesien? Verseker. Was dit per toeval dat sy uit die hordes boodskappe as wenner gekies is? Ek betwyfel dit.

 

Mag ons wanneer ons hierdie Kersfees by die tafel aansit opnuut dankbaar wees vir dié genadegawe uit God se hand. En mag ons onthou om ons oë oop te hou vir gesinne waar ons ’n seëning kan wees wat dit dalk nie so maklik in hierdie tyd het nie. Sterkte!

 

Vader God, baie dankie vir elke genadegawe uit U hand. Help my asseblief om ook my oë oop te hou vir gesinne wat swaarkry en waar ek kan help. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

 

Luister na die getuienis van die luisteraar hier: https://benescke.co.za/podcast/god-voorsien-n-getuienis/