Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Nuusberig het my aandag die week getref. Om jou die realiteit van die spesifieke situasie te laat insien, wil ek jou vra om die volgende saam met my te doen:

Sien jouself vir ’n oomblik as ’n 21-jarige student op jou motorfiets op pad om te gaan eksamen skryf. Alles verloop goed. Dan, vanuit nêrens kom ’n motor oor ’n rooi verkeerslig in jou rigting gejaag. Jy trek briek. Jy wil stop, maar jy is te laat. Die voertuig tref jou. Jy trek deur die lug en wanneer jy die grond met ’n slag tref, skiet die pyn deur jou liggaam. Jy weet onmiddellik dat jou been gebreek is.

Met die aankomende verkeer wonder jy of jy vandag gaan oorleef. Wat as die motors jou nie sien nie?! Dan stop ’n voertuig. Jy lig jou kop om te kyk wie dit is. Dan stop nog een … en nog een! Dit neem nie lank voordat die taxi’s ’n kring rondom jou vorm wat jou veilig hou van aankomende verkeer.

Wat selfs meer indrukwekkend is, is dat ’n opgeleide paramedikus uit een van die taxi’s spring. Hy was op pad werk toe en kan jou daar op die toneel dadelik help.

Is hierdie ’n droom?

Vir die 21-jarige Tukkie-student, Elrich Engebrecht van Pretoria was hierdie situasie ’n paar dae gelede sy werklikheid. Vanuit die mees onverwagse oord het hy ervaar hoe mense hulle lig laat skyn het en liefde en omgee betoon het in ’n oomblik wat hy dit die nodigste gehad het.

So waaroor gaan Kers-fees? Vir my gaan dit daaroor om ’n KERS in hierdie feestyd te wees. Om Jesus se lig te bring na situasies waar dit die nodigste is. Om liefde en omgee te betoon aan mense wat dit die minste verwag – en soms selfs verdien. Dit kan die boemelaar op straat wees, ’n geliefde wat jou geweldig seergemaak het, jou buurman of vrou wat oor alles kla of selfs iemand wat jy glad nie ken nie wat jy in die oomblik raaksien en help.

Is dit altyd maklik? Verseker nie, maar dit is altyd die moeite werd.

Mag ons God dank vir die geskenk van Jesus Christus wat vir ons gesterf het aan die kruis. Mag ons daarna streef om God se liefde en teenwoordigheid tasbaar in ons lewens te beleef. En mag ons soek na geleenthede soek om in hierdie feestyd kerse te wees wat van sy liefde getuig.

Geseënde Kersfees!

enrich-engelbrecht-2

Foto: Enrich Engelbrecht in die hospitaal na die voorval waarin hy raakgery is.