‘n Petroljoggie se lewe word verander
’n Paar weke gelede het ek iets hartroerend beleef. Dit was rondom 18:00 die Saterdagaand. Ek het vinnig by die petrolstasie gestop om petrol in te gooi. Die blymoedigheid van die petroljoggie, Lee-Ann het my dadelik opgeval. In ons gesprek het ek besef dat sy reeds ’n werkskof van 12 ure agter die rug gehad het met 4 ure om te gaan. 16 ure op een dag! Op die vraag of sy dan nie moeg raak nie, het sy geantwoord dat sy dankbaar is vir haar werk. Sodra sy mismoedig raak, praat sy hard met haarself om positief te bly omdat sy ten minste nou geld gehad het om kos vir haar kinders te koop. Sy was ook pas terug van kraamverlof.
As ma het die storie my hart geruk. Ek kon nie ophou dink aan Lee-Ann nadat ek daar gery het nie. Iets moes gedoen word om hierdie ma te help. Ek het met ’n paar mense gepraat en ’n paar dae later was ek, namens Radio Tygerberg 104FM, saam met Warren Manuel, bestuurder van Dis-Chem Willowbridge, wat namens die Dis-Chem Stigting aan boord gekom het en Charlene Mekel, van Spar Wes-Kaap se Gemeenskapprojekte, op pad na die petrolstasie om vir Leë-Ann met goeie nuus te gaan verras.
Spar Wes-Kaap het besluit om Leë-Ann met geskenkbewyse van R6 000 te verras en die Dis-Chem Stigting het vir Lee-Ann geskenkbewyse ter waarde van R12 000 gegee! Wat die storie indrukwekkend maak, is dat sy na afloop van die aankondiging van die goeie nuus (wat almal in trane gehad het – kyk skakel na video onderaan), vertel het dat sy daardie oggend niks in die huis gehad het om te eet nie. Daar was ook net twee doeke vir die baba oor. Met die laaste geld in haar besit, het sy werk toe vertrek. “Al wat ek kon doen, was om op God te vertrou,” vertel Lee-Ann, wat in daardie stadium al dae lank in die nag opgestaan het om te bid dat God haar situasie verander. “Ek het God vir ’n deurbraak vertrou, maar Hy het gekom en my totaal uitgeboul. Ek is oneindig dankbaar.”
No Comments