Dag 17: WEES GOED VIR ANDER

Deur Benescke Janse van Rensburg
’n Gesegde het onlangs my aandag getrek: “Voordat jy jouself geestelik of gelowig noem, leer eers om goed vir jou medemens te wees.” Ons Springbokkaptein, Siya Kolisi en sy vrou Rachel het in verlede week aan ons almal gedemonstreer hoe ’n goeie daad ’n lewe kan verander.
Met die aanvang van die Springbokke se oorwinningstoer na die Rugbywêreldbeker deur die strate van Suid-Afrika, het hulle by die Helpmekaar Kollege ’n draai gemaak. Hiér is ’n jong, 15-jarige seun, Lebo Mogoma, op kamera vasgevang waar hy nie sy trane kon beheer nadat sy held, Siya Kolisi sy tokse vir hom geteken het nie. Die video het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.
Met die BrightRock Players Choice Awards wat verlede Dinsdag by Hyde Park in Johannesburg aangebied is, het Siya en sy vrou Rachel moeite gedoen om Lebo op te spoor en hom en sy ma saam te nooi na die geleentheid. Om dit selfs nog meer spesiaal te maak, het hulle met Lebo se ander held, Cheslin Kolbe gereël dat Lebo saam met Siya op die verhoog kon stap om namens Kolbe sy prys vir beste agterspeler van die jaar te gaan afhaal. Kolbe kon nie die geleentheid bywoon nie.
Vir Lebo en sy ma was dit ’n rowwe jaar. Die Kolisi-egpaar het na afloop van die geleentheid gesê dat hulle hoop hierdie “klein aksie van goedheid” sal ’n ligpunt vir hulle in hul situasie wees.
Dit is soms die klein dingetjies wat die grootste verskil in ander se lewens kan maak – ’n vriendelike woord, ’n onselfsugtige uitreik, ’n glimlag. In Spreuke 3:27 lees ons: “Moenie ’n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom, terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie.”
Goeie dade bring ons nie in die hemel nie; ’n verhouding met Jesus Christus doen. Tog, vriendelike optrede of goeie dade ontsluit mense se koue harte. Dit veroorsaak dat hulle die warmte wat uit ons harte as gelowiges behoort te skyn, begin begeer. Kom ons hou op om net “geestelik” te wees en demonstreer aan ander (sonder woorde) wie hierdie Jesus is wat ons aanbid. Sterkte.
Vader God, baie dankie vir U liefde en genade. Wys my asseblief geleenthede waar ek hierdie liefde praktiese aan ander kan demonstreer. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Lees die artikel hier: https://www.sport24.co.za/Rugby/RugbyWorldCup2019/feel-good-kolisi-invites-schoolboy-who-cried-over-signed-boots-to-awards-night-20191120
Claudia Van Biljoen
Goeie More.
Aai maar die Here bly getrou en HY beantwoord gebede en Mag GOD se rykste Seen altyd op Meneer Siya en Mevrou Rachel Kolisi rus. Ja die Springbokke onder leiding van hul Kaptein het Suid Afrika regtig geseen en daar het so n vleestelike geur ontstaan toe hulle gewen het en terug gekom het om aan die Publiek dankie te kom se vir hul ondersteuning en gebede vir hulle dit was vir my die Mooiste gebeurtenis. Mag God ons span Seen en ons Land Seen Amen. Mog die Here vir klein Meneer Lebo Mogoma en sy Moeder Geestelik en Figuurlik Seen. Mag daar verskillende deure vir hulle oopgaan want die Woord van die Here se Wie op HOM wag kry nuwe krag Amen. Mag klein Meneer Lebo geseend wees op sy skoolbane as hy in sy jeug instap en in sy as hy in sy grootmens jare instap. Mag die Inspirasie van ons Springbok Kaptein vir hom n Groot deur oopmaak vir hy en sy Moeder en Mag HY die Here dien in Gees en in Waarheid want dit is deur God wat in ons Kaptein se hart gewerk het om hom tussen almal raak te sien soos ou klein Saggeas. God baan n weg waar daar geen weg is en ek se vir die Here baie dankie dat God nog deur mense se harte kan werk dat hulle nog gehoorsaam is en nie blindelings kyk nie maar die nood en seer van ander kan raaksien Amen. Ek Saluut u Meneer Siya Kolisi vir een tussen miljoene se harte wat u kon bly maak.
Annemarie Pérez-Ricardo
Wat ‘n pragtige gebaar van die egpaar. Dis wat God van ons verwag om die behoeftiges raak te sien. Mag die Here hulle ryklik seen en ook die jong man en sy moeder.