Deur Benescke Janse van Rensburg

 

Het jy al ooit ’n oggend opgestaan en gewonder hoe jy deur jou “Doen-lysie” vir die dag gaan kom? Aan die begin van hierdie nuwe week en nuwe skooljaar vir heelwat van ons, mag ’n mens maklik oorweldig voel en wonder hoe jy al die balle in die lug sal kan hou.

 

In Josua 10 lees ons van ’n veldslag tussen Josua en die Israeliete aan die een kant en die Amoriete aan die ander kant. Met die besef dat hulle meer daglig gaan benodig om die veldslag te wen, het Josua vir God gevra om die onmoontlike te doen: om die son en maan te laat stilstaan. God het sy gebed verhoor. Die Israeliete het daardie dag die oorwinning behaal.

 

Wanneer ons oorweldig voel met alles wat afgehandel moet word, voel ons ook soms om vir God vir daardie ekstra ure te vra. Hy gaan dalk nie die son en man laat stilstaan nie, maar Hy vul ons wel deur sy Heilige Gees met wysheid, kreatiwiteit en kennis. Hiermee gaan ons die hindernisse in ons pad heelwat vinniger en méér effektief hanteer – óf selfs heeltemal vryspring. So kry ons wel daardie ekstra tyd om alles af te handel.

 

God sien die toekoms. Hy weet wat ons benodig nog voordat ons dit vir Hom vra – tog moet ons Hom vra. In Spreuke 16:1,3 lees ons: “’n Mens kan sy voornemens hê, maar die laaste woord daaroor kom van die Here af. . . Laat wat jy doen aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk.” Ook in Spreuke 3:6 lees ons: “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.”

 

Kom ons nooi God soggens heel eerste in ons dag in – voordat die vyand ons wil laat glo dat ons “te besig” is om dit te doen. Kom ons vra God om ons voetstappe te rig – eerder as om Hom bloot net te nader sodra ’n krisis opduik. Hy het die son en maan vir Josua laat stilstaan. Ons mag dalk net verstom staan oor wat mag volg wanneer Hy ons met wysheid, kreatiwiteit en kennis vul! Sterkte.

 

Vader God, baie dankie dat ek U mag innooi in my dag (en die skooljaar). Vul my asseblief met wysheid, kreatiwiteit en kennis in elke situasie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.