DAG 13: WAT IS DIE WAARHEID?
Deur Benescke Janse van Rensburg
In China is ’n man, bekend as Kong vroeër die week gearresteer nadat hy miljoene dollars verdien het deur ’n soutoplossing en minerale water as Covid-19 entstof te verkoop. Hy het 58000 dosisse na die buiteland gesmokkel.
Ons leef in ’n era waar die waarheid en leuens met tye só vervleg word dat dit moeilik word om tussen wat reg en verkeerd te onderskei – amper net soos Kong se “entstof”. Iets wat op die oog af reg “lyk”, kan dalk die vyand se leuens wees wat reg “verpak” is. Jesus het sy dissipels in Matteus 7:15 teen hierdie misleiding gewaarsku: “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.”
Hoe gaan ons die waarheid ken? In Johannes 17:17 lees ons: “U woord is die waarheid.”
As ons nie moeite doen om terug te gaan na God se Woord en dit op ’n gereëlde basis te lees en te oordink nie, word ons maklik meegevoer en aanvaar ons dinge (in die media, kerk of selfs van iemand naby aan jou) wat dalk lynreg teen die Woord van God staan.
Hoe weet ons die Woord is waar? In 2 Timoteus 3:16 lees ons: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek . . .”
Kong kon mense ’n rat voor die oë draai net totdat iemand die inhoud van sy soutoplossing langs die ware entstof getoets het. Net so word die vyand se leuens ontbloot die oomblik dat ons God se Woord begin lees en daarop mediteer.
Kom ons vra God om ons deur sy Heilige Gees te lei wanneer ons die Woord oopmaak om dit te lees sodat dit vir ons in elke situasie die lig vir ons pad word waarop ons stap! Sterkte.
Vader God, baie dankie vir U Woord. Lei my deur U Heilige Gees om dit te lees en daaroor na te dink. Help my om daagliks te onderskei tussen waarheid en leuens. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
No Comments