DAG 5: GOD KAN IETS GOED UIT HARTSEER BRING
Deur Benescke Janse van Rensburg
Soms gebeur slegte dinge selfs met goeie mense. Hoekom? Want ons leef in ’n gebroke wêreld. Tog is dit nodig dat ons mekaar moet herinner dat God stééds goed is en dat Hy stééds in staat is om iets mooi uit die grootste tragedie in ons lewens na vore te bring. Dít is wat Karen Swanepoel beleef het.
Karen: “Twee dae voor my 10de huweliksherdenking het my lewe ingrypend verander. My man, Schalk en beide ons kinders Jeanelle (5) en Juan (2) is in ’n grusame motorongeluk van my af weggeruk. Ek het alleen die ongeluk oorleef.
“Om sin te probeer vind in só tragedie trek jou heelwat nader aan God. Ek het besef dat hy ’n groter doel en plan met my lewe het. Weens my beserings is ek eers ná 24 dae uit die hospitaal ontslaan. Eers twee weke daarna kon ons die roudiens vir my gesin hou. Die skrifgedeelte wat op die diens gebruik is – en wat ’n belofte vir my geword het om aan vas te hou – was uit Psalm 43:5: “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing. Hy is my helper en my God!”
“Nog ’n rede waarom ek gevoel het dat my lewe gespaar is, was vir my ouers se onthalwe. Hulle het immers reeds my suster jare vantevore in ’n motorongeluk verloor wat vir hulle ’n geweldige slag was. Ek het besluit om na Mosselbaai te verhuis om naby aan hulle te wees en my nuwe lewe daar te begin. Om na 6 jaar as mamma by die huis dadelik in ’n werk te kon instap was ’n absolute stuk genade. Om iets te hê waarvoor ek soggens moes opstaan het my verseker gehelp om emosionele genesing te beleef.
“Bykans drie jaar ná die ongeluk het ek op ’n dag in ’n koffiewinkel gesit. ’n Man ’n entjie van my af het my aandag getrek en ons het aan die gesels geraak. Dít was die begin van menigte koffie-afsprake. Op ’n dag, maande later het hierdie man, André Swanepoel, ’n handgeskrewe stuk papier uitgehaal en dit op die tafel gesit. Ná sy egskeiding jare vantevore het hy ernstig met God oor ’n vrou gesels. Hy het toe ’n lysie gemaak van eienskappe wat hy graag in só ’n vrou wou hê. Verbaas het ons na mekaar gekyk by die besef hoe goed hierdie lysie my beskryf. André het later vertel dat hy reeds met ons eerste ontmoeting in sy hart ervaar het dat God vir hom sê dat ek die vrou is waarvoor hy gewag het.
“Ons is getroud in die jaar wat ek my 40ste verjaarsdag gevier het. Alhoewel beide ek en André na ons eie kinders gesmag het, het ons geweet dat ons ouderdom teen ons tel. Tog is daar by God genade. Twee jaar later was ek swanger met ’n tweeling – Desiré en Reynard. Vandag kyk ek terug met ’n hart wat oorloop van geluk. God het my in my grootste seer gedra. Hy is my Vader en Trooster en Hy is steeds ’n Waarmaker van sy Woord. Ek sing weer ’n loflied, net soos Hy destyds by my gesin se roudiens uit Psalm 43:5 beloof het! Alle eer kom Hom toe.”
Karen is reg. God is naby dié wat gebroke is van hart. In Psalm 30:6 lees ons: “Waarlik, sy toorn duur net ’n oomblik, maar sy goedheid lewenslank. Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.” Ook in Jeremia 31:13 lees ons: “Ek sal hulle droefheid in vreugde verander, Ek sal vir hulle uitkoms gee: Ek sal hulle bly maak, hulle sal geen kommer meer hê nie.”
Mag ons vashou aan God en aan sy beloftes. Mag ons mekaar herinner dat Hy stééds ’n goeie God is. Hy is naby ons in ons seerkry, maar Hy is ook in staat om uit die grootste tragedie iets mooi na vore te bring! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U my in my grootste seer dra. Help my asseblief om my oë op U te hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Karene en Andre saam met die tweeling, Desire en Reynard
Karen saam met haar eerste gesin.
Magrieta Links
Amen. Dis wat ons pragtige God kan doen. Amen.