DAG 8: GOD IS STÉÉDS GOD – IN SY WOORD
Deur Benescke Janse van Rensburg
Hoe eet ‘n mens sjokolade? Volgens die Britse sjokoladekenner, Jen Earle moet sjokolade gesuig en nie gekou word nie. Só sal jy aan die begin, middel en einde verskillende smake geniet.
Die bestudering van die Woord van God kan met die sjokolade-eet raad vergelyk word. In stede daarvan om dit te sien as ‘n “taak” wat afgehandel moet word, is dit nodig om dit wat ons lees te oordink (amper soos om die sjokolade te suig). Doen ons dít sal ons dieselfde gedeelte kan lees, maar verskillende “smake” in verskillende seisoene van ons lewens beleef.
Hoekom? Want die Woord van God is lewend en kragtig (Hebreërs 4:12). Die Psalmdigter beskryf dit in Psalm 119:103 só: “Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond.” Dit is ook die swaard waarmee ons die vyand beveg (Efesiërs 6:17) en die plek waar ons God beter leer ken. In Johannes 1:1 lees ons immers: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.”
Kom ons tel die Woord van God op en oordink dit. So sal ons beleef dat God werklik stééds God is. Sterkte.
Vader God, baie dankie vir u Woord. Breek dit vir my oop deur u Heilige Gees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
· Nuwe boek: Kry my nuutste boek, God is stééds God, met meer as 60 lewensveranderende geloofstories hier: https://benescke.co.za/
No Comments