HY MAAK DIE STORM STIL
Minstens 40 geboue het gister in die Nashville omgewing in Tennessee, Amerika ineengestort ná twee tornado’s die gebied getref het. Mense moes uit geboue vlug nadat gaslekke ontstaan het. Die omvang van die skade en beserings is in hierdie stadium ongekend.
Het dit al vir jou gevoel asof daar ’n tornado in jou rigting op pad is? Hoe vinniger jy daarvan probeer weghardloop, hoe groter word die spoor van verwoesting? Ons beleef dit soms in die werkplek, in ons finansies, met verhoudings of selfs met depressie of vrees wat soos ’n donker wolk op ons neerdaal. Dit laat ons lam. Radeloos. Soms selfs platgeslaan.
In Matteus 8 lees ons dat Jesus en sy dissipels in ’n boot op die see was toe ’n groot storm uitbreek. Terwyl Jesus se dissipels paniekbevange was, het Hy egter rustig in die buik van die boot gelê en slaap. Hulle het Hom in hulle histerie wakker gemaak. Sy antwoord is egter merkwaardig: “‘Waarom is julle bang, kleingelowiges?’ Daarna het Hy opgestaan en die wind en die see hard aangespreek, en dit het doodstil geword.” In in Lukas 10:19 lees ons: “Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.” En dan in Matteus 21:22 staan geskryf: “. . . alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.”
Is ons soms net so kleingelowig soos die dissipels op die boot? Of neem ons ons outoriteit op wat Jesus aan ons gegee het deur hard met ons storms te praat in sy Naam te praat? Sterkte.
No Comments