Deur Benescke Janse van Rensburg


Vroeër die week stap ons na-ure by die noodeenheid van ’n hospitaal in. My dogtertjie was by die pediater wat haar as buite-pasiënt soontoe verwys het om vir haar middeloorontsteking binne-aarse antibiotika te kry. Eers toe ons gaan sit in die wagkamer, tref dit my dat ons die enigstes in die vol lokaal is sonder maskers – en daar is ’n klomp pasiënte wat hoes en proes. Daar was geen meer maskers in voorraad om uit te deel nie.

Dit is moeilik om nie jou neus in jou hemp te wil druk in die hoop dat geen van die onsigbare kieme in die vertrek jou sal bereik nie. Tog, daar in die noodeenheid, sonder ’n masker om myself of my kinders te beskerm, het ek besef hoe belangrik dit is om in hierdie tyd waarin almal oor die Koronavirus praat, doelbewus ons geloof en vertroue in God te plaas. Sy Woord en beloftes staan steeds vas.

In Psalm 91:1-7 lees ons: “Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: ‘U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.’ Dit is Hy wat jou uit die voëlvanger se wip hou en jou bewaar van dodelike siekte. Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ‘n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante. Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag, vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie. Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou, vir jou sal niks tref nie.”

Mag ons in hierdie tyd voorsorg tref, maar nie toelaat dat vrees ons oorweldig nie. Mag ons doelbewus begin om God te vertrou om ons dag en nag te beskerm. Hy ken die aantal dae wat ons op aarde sal spandeer. Kom ons doen dit met vreugde en vrede in ons harte. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my beskerm. Help my asseblief om nie toe te laat dat vrees my oorweldig nie, maar om doelbewus my geloof en vertroue in U te plaas. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.