Deur Benescke Janse van Rensburg

Gister was ’n rowwe dag op Senekal. Boere, arbeiders en gemeenskapslede het op die dorp saamgekom met een missie: om hulle stemme teen plaasmoorde dik te maak. “Genoeg is genoeg,” het op verskeie plakkate gepryk. Die emosies het hoog geloop – ’n brandende polisiemotor, ’n skokgranaat, waarskuwingskote en selfs ’n Njala wat tussen die betogers injaag.

Hoe staan jy sterk wanneer dit voel asof geen pleidooie vir beter veiligheid op landelike gebiede gehoor word nie?

Ek het op ’n plaas in die Vrystaat grootgeword. Nie te vêr van waar my ouers steeds woon is van ons bure een Sondag ná kerk in hulle plaashuis vermoor. Die effek van só onsinnige daad van haat het vêrreikende gevolge vir ’n hele gemeenskap. Vir ’n hele land. Hoe leef jy nié in vrees nie? Hoe koester jy nié bitterheid en haat en selfs ’n gevoel van wraak aan jou binneste nie?

Deur al die chaos gister op Senekal was daar een foto wat my elke keer diep raak. ’n Groep boere op hulle knieë met ’n hoed in die een hand en die ander hand in desperaatheid en afhanklikheid uitgestrek na Bó. Dit is slegs God wat ons boere kan beskerm. Dit is slegs Hy wat ’n verandering in die gebroke stelsel kan bewerkstellig.

In 2 Kronieke 7:14 lees ons: “ … (as) my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees. Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek.”

Kom ons raak ontslae van die vrees in ons harte om plek te maak vir geloof en vertroue in die Een wat nooit verander nie. Kom ons roep sy Naam aan en kom ons herinner mekaar dat Hy stééds God is.